Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 8 Augustus 2011

Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms

DAG 26: HET JY ’n SPINNEKOP IN JOU LEWE?

Deur Benescke Janse van Rensburg

Piet Visagie was platsak en desperaat om by die volgende dorp te kom. Toe een van die vragmotorbestuurders vir ’n oomblik wegkyk, het hy agter in die vraghouer ingeglip. ’n Paar minute later het die trok vertrek en Piet het homself tuisgemaak en met die ritmiese gedruis van die bande op die teer aan die slaap geraak.

Twee ure later het Piet in die pikdonker vraghouer wakker geskrik. Iets harig was besig om teen sy wang uit te klouter. Nog half deur die slaap het hy die harige voorwerp met sy hand probeer wegvee – tevergeefs. Piet het sy boksie vuurhoutjies uit sy sak gehaal en een aangesteek. In die dowwe lig het hy meteens na die punt van ’n reusagtige, harige Tarantula-spinnekop se poot teen sy wang gestaar.

Met een sprong was Piet teen die vraghouer se deur. Hy moes uitkom. Hy moes wegkom van hierdie spinnekop af! Toe kom die skok: Die vraghouer se deure is gesluit! Vrees en paniek het Piet oorweldig terwyl hy teen die geslote deure begin hammer en skree het.

Toe die vragmotor eindelik die volgende dorp bereik, het die bestuurder gaan ondersoek instel na die geskree vanuit die houer. Hier het hy vir Piet gekry – bewend met opgeswelde, bebloede hande, totaal deurdrenk met vrees en angs. En die spinnekop? Dié het reeds van Piet afgeval toe hy daardie eerste sprong na die vraghouer se deur gegee het...

Piet se vrees het veroorsaak dat hy totaal perspektief verloor het. In ons lewens gebeur dieselfde maklik. Ons vrees vir wat in die toekoms op ons mag wag, kan verhoed dat ons die hede geniet. Wat is jou vrese vandag? Vrees jy dat jou huweliksmaat ontrou aan jou gaan wees? Dat ons regering die myne of landbougrond gaan nasionaliseer? Dat jou kind met dwelms of die verkeerde vriende deurmekaar gaan raak? Of dat jy by die werk afgelê gaan word of met “daardie” siekte gediagnoseer gaan word?

Die Psalmdigter, Dawid het ook vrees geken. In Psalm 55:5-6 lees ons: “O God, luister tog na my gebed … want ek is desperaat. My hart krimp inmekaar as die doodse vrees my oorval. ’n Verskriklike angs sak oor my toe sodat ek heeltemal paniekerig raak!” Luister egter na hoe Dawid perspektief behou het te midde van hierdie vrees: “Net God kan my verlos en daarom sal ek my oë op Hom hou!” (Psalm 55:17)

Dawid het gekies om sy oë op God gevestig te hou. Hy het besef dat hyself geen gebeure in die toekoms kan beheer nie, maar dat God kan. Hy het besef al klop sy hart woes en bang, hy sy rus in God kan vind. Wat van jou? Waarop is jou fokus – die moontlike spinnekop wat jou bang en verlam laat soos Piet in die trok, of kyk jy na God wie jou beskerm en in wie jy jou vrede kan vind?

Vader God, dankie dat ek in my diepste nood en vrees na U kan kom met die wete dat U steeds in beheer is. Help my vandag om elke vrees in my hart voor U troon neer te sit. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

* Regstelling: Die teksverwysing in Vrydag se stukkie moet nie Psalm 30:13-15 wees nie, maar Psalm 33:13-15.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.

NUUSBROKKIES:

  • ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.

  • PRAATJIE:

  • Benescke tree op as spreker by:

  • Dinsdag, 9 Augustus 2011: By die Logos Kerksaal in Bellville. Kontakpersoon: Mari van Eeden by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

 TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

 HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit kan oor enigiets wees. Ons deel dit van tyd tot tyd met die lesers. Dankie. Benescke

 As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

 

 

 

Previous article: Vers n dag - 10 Augustus 2011 Prev Next article: Vers n dag - 5 Augustus 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.