Die Heilige Gees help my om te bid - 22 Julie 2019
Ewald Schmidt
“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.” Romeine 8:26-27
Daar is tye in ons elkeen se lewe waar dit moeilik vir ons is om te bid. Dalk het jy ook al gesê “Dit voel asof ek teen die plafon vasbid.” Paulus het gesê ons lewe in die tyd van verganklikheid, dit bring baie uitdagings mee. Soms word ons of ons hartsmense siek, en word nie dadelik gesond nie, al bid ons daarvoor. Ons verhoudings met mense na aan ons harte bring soms spanning, en dit lyk of dit nooit weer gaan regkom nie. Party van ons boer, en die droogte wil net nie breek nie. Elke gelowige bereik soms die plek waar ons op breekpunt kom, en waar dit moeilik raak om te bid. Ek bid, maar dit voel asof die Here nie hoor nie. Ek sien nie deurbrake nie. My woorde raak op, ek weet nie meer hoe om vir die Here te sê wat hier binne my hart leef nie. As ek nie eens die regte woorde kan vind nie, hoe sal God my gebed dan verhoor?
Ons vers bring ‘n groot verligting. Jy bid nie alleen nie! Jy hoef ook nie die regte woorde te vind dat God sal verstaan nie. God die Heilige Gees woon in ons. Hy staan ons by in alles wat ons doen. Hy bid saam met ons! God is die kenner van ons harte. Jesus het ons geleer dat ons Vader weet wat ons nodig het nog voordat ons dit van Hom vra (Matteus 6:8). Die Here ken my hart deur en deur, en Hy weet presies waarmee ek sukkel. Wanneer ek dan in uitdagende tye kom, is dit baie belangrik om steeds my afspraak met die Here in my binnekamer na te kom. Al sukkel ek dalk om die regte woorde te vind, die Heilige Gees sal my daarin help. Dit wat in my hart leef dra Hy op na my Vader se troon. Hy pleit vir ons by die Vader. Ons mag in moeilike tye maar net stil wees, en in ons binnekamer op die Here wag. Die Gees help ons om met hoop te bly volhard, totdat die Here antwoord.
Gebed: Here, dankie dat U nie anderkant die plafon woon nie. Dankie Heilige Gees dat U in my hart kom woon het. U ken my gedagtes nog voor dit by my opkom. U hoor my versugtinge, en U neem dit in gebedsvorm na my Vader toe. Dankie dat U my bystaan en vir my pleit. Help my om te vertrou wanneer dit tevergeefs voel. Vul my met u hoop. Amen.