Lewe wat uiteindelik sin maak - 23 Julie 2019
Ewald Schmidt
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” Romeine 8:28
Hierdie is dalk een van die mees misbruikte verse in die Bybel. Paulus belowe nie hier dat al my drome eendag gaan waar word nie. Die vers bedoel ook nie om goedkoop troos te bied wanneer ons werklik seer het in ons lewe nie. Dit wil selfs nie sê dat God slegte dinge laat gebeur net om jou te vorm nie.
Die hele hoofstuk vertel van ons lewe deur die Heilige Gees gelei. Die lewe is ‘n kosbare geskenk van God, maar ons leef in ‘n stukkende wêreld, in ‘n tyd van verganklikheid. Ons word nie van al die lyding van hierdie wêreld gespaar nie. Lyding kan uit verskillende oorde na ons kant toe kom. Wat ook al die lyding veroorsaak het, maak nie soveel saak nie. Wat belangrik is, is dat ons ons lewenspad deur die Heilige Gees laat lei. Ons gaan foute maak langs die pad, maar ons is reeds vrygespreek deur ons geloof in Jesus (vers 1). Ons beleef moeilike tye, maar ons bid deur die Gees. Die lewensreis hou aan, en ons volhard op hierdie pad, totdat God eendag bekend maak wie sy kinders is. (vers 19)
Ons teksvers wil ons begin verseker dat niks ons uit God se hand sal ruk op ons lewensreis nie. Dit ontken nie dat ons soms seer dinge beleef of groot uitdagings moet oorkom nie. Maar in al hierdie omstandighede staan die Heilige Gees ons by, en lei ons op God se pad. Al kom ons gehawend aan die ander kant uit: God is met ons. Al ons lewenservaring bou uiteindelik op tot een groot getuienis van God se goedheid- ons toekoms is veilig by Hom. Die Here kan ons mees uitdagende tye tot sy eer gebruik. Ons plek van seer word soms die bediening waarmee ons later ander help in soortgelyke omstandighede. Ons geloof wanneer ons vervolg word, inspireer dalk iemand anders om God te soek. Ons kan die omstandighede van ons lewe nie self kies nie. Maar ons kan altyd kies hoe ons daarop gaan reageer. Hierdie vers verseker ons weer dat God in beheer is, en selfs uit die grootste seer tog iets mooi kan laat voortkom. Kom ons vertrou Hom, en volg waar Hy lei, ongeag hoe die roete daarheen lyk..
Gebed: Here, my insig is maar beperk, en ek verstaan nie altyd waarom my lewenspad loop waar hy loop nie. Maar U lei my op daardie pad, leer my dan om U te vertrou waar ek bang word of seer het. Laat alles in my lewe en goede meewerk om U te eer. Amen