Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 15 Augustus 2011

Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms

DAG 30: WAT SIEN JY?

Deur Benescke Janse van Rensburg

Stop vir ’n oomblik en kyk na jou omgewing rondom jou. Toe, stop en kyk eers rondom jou voordat jy verder lees. Wat sien jy?

Sit jy dalk by die werk voor jou rekenaar en terwyl jy opgekyk het, het jy jou nors kollega ’n entjie weg van jou af raakgesien? Of lees jy die stukkie op jou selfoon waar jy in die lang ry staan en wag om ’n rekening te betaal en toe jy opkyk, kon jy nie help om raak te sien dat die ry agter jou al langer word weens die stadige klerk voor nie? Of het iemand die dagstukkie vir jou uitgedruk sodat jy dit per hand kan lees in die gemak van jou huis, maar nou onderbreek julle blaffende hond in die agterplaas jou konsentrasie?

Kyk nou weer na dieselfde omgewing, maar die keer deur ’n ander bril. Een van dankbaarheid.

As jy by die werk voor jou rekenaar sit… Sien jy raak dat dit ’n genadegawe uit God se hand is dat jy ’n werk het? Sien jy die geleenthede raak wat God oor jou pad stuur om sy liefde deur jou optrede aan daardie moeilike kollega te openbaar?

As jy in die ry staan om jou rekening te betaal… Besef jy dat dit ’n voorreg is dat jy gesond genoeg is om jou bene te gebruik? En sien jy raak dat dit ’n genadegawe uit God se hand is dat jy finansieel genoeg het om jou rekeninge te kan betaal?

Of as jy in die gemak van jou eie huis sit terwyl jy die stukkie lees… Sien jy raak dat dit ’n geskenk uit God se hand is dat jy ’n dak oor jou kop het en genoeg kos het om jou gesin en ook die blaffende hond buitekant te voer?

Die Psalmdigter, Dawid het besef dat alles wat ons het en is ’n genadegawe uit God se hand is. Luister weer na sy woorde in Psalm 16:5-6: “Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.”

Kom ons kies om hierdie week met die bril van dankbaarheid elke situasie tegemoet te stap en God te dank vir elke genadegawe in ons lewens. Kort voor lank mag jou nors kollega dalk begin glimlag, die lang ry skielik korter word en die blaffende hond stil tevrede smul aan die been wat jy vir hom gegee het. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir elke genadegawe wat ek onverdiend uit u hand ontvang. Help my om dit nooit in my lewe mis te kyk nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.

NUUSBROKKIES:

  • ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.

TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..  

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit kan oor enigiets wees. Ons deel dit van tyd tot tyd met die lesers. Dankie. Benescke

As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 16 Augustus 2011 Prev Next article: Vers n dag - 12 Augustus 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.