Ek word gevorm na Jesus se beeld - 24 Julie 2019
Ewald Schmidt
“Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.” Romeine 8:29-30
As ‘n mens graag ‘n legkaart wil bou, dan help dit om te weet hoe die prentjie lyk waarheen jy werk. Dis sekerlik waar van die meeste dinge wat ons aanpak. Voordat ons iets begin, wil ons graag weet hoe dit gaan lyk wanneer ons klaarmaak. Waarteen meet ons die vordering, wat is die standaard wat ons wil bereik? Wanneer ons dan gesels oor die nuwe lewe wat gelowiges uitleef onder die leiding van die Heilige Gees, dan mag ons vra: hoe lyk ‘n lewe tot eer van die Here? Hoe gaan ons weet of ons op die regte koers is?
Die Here het al lankal begin om met sy kinders ‘n pad te stap. Hy het vir ons sy Gees gegee om ons te help word wat Hy ons beplan het om te wees. Die doel van ons geestelike reis is om gelykvormig te wees aan die beeld van Jesus. Ons lewens moet meer en meer soos Jesus lyk. Aan die een kant beteken dit dat die Heilige Gees ons help om ontslae te raak van alles in ons lewe wat nie tot eer van God is nie. Alles wat nie soos Jesus lyk nie. Jesus is ons voorbeeld. Hy het ons geleer dat die belangrikste dinge in ons lewe verhoudinge is. Om God lief te hê met hart, siel en verstand. (Matteus 22:37) en om ons naaste so lief te hê soos wat Hy hulle liefhet (Johannes 13:34). Die Heilige Gees help ons om alles te oorwin wat liefde in ons lewe keer. Hy help ons om te groei in alles wat liefde en goeie verhoudings bevorder. Paulus sê: God doen dit in elke gelowige se lewe. Hy het ons gekies, en geroep, en vrygespreek. Hy het ons alles gegee wat ons nodig het om die ou sondige natuur, die eie EK in my lewe te oorwin. Hy is ook besig om ons te verheerlik, om ons al meer en meer soos Jesus te laat word.
Volgens oorlewering het iemand op ‘n dag ‘n reuse blok fyn Italiaanse marmer by Michelangelo Buonarotti afgelewer, waaruit hy die later beroemde Dawid standbeeld sou vorm. Die voorman het vir hom gevra: “Hoe op aarde gaan jy Dawid uit hierdie klip laat kom?” Michelangelo het geantwoord: “Dis heel maklik – ek gaan alles wegkap wat nie soos Dawid lyk nie…” Dis dalk waarmee die Heilige Gees in ons lewens besig is- om alles weg te kap wat nie soos Jesus lyk nie. So bou Hy ‘n meesterstuk…
Gebed: Here Jesus, dankie dat U vir my kom wys hoe ‘n kind van God se lewe lyk. Heilige Gees, kap alles in my lewe weg wat nie soos Jesus lyk nie. Vorm my en maak my soos U my graag wil ghê, hervorm my lewe om soos Jesus te lyk. Amen.