Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 19 Augustus 2011

Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms

DAG 34: VERWYDER DIE “ROTSE” IN JOU LEWE

Deur Benescke Janse van Rensburg

Wat sal jou reaksie wees as jy môreoggend by jou huis uitstap en ’n reusagtige 20-ton rots in jou oprit vind? Dít is wat Dany Larivière, die burgemeester van Saint-Théodore-d’Acton, ’n klein dorpie naby aan Montreal in Kanada, se voormalige vrou te beurt gestaan het.

Uit radeloosheid vir sy vrou wat hom nie kan uitlos nie, het Larivière glo Maandag in die vroeë oggendure haar “geskenk” (nogal toegedraai met ’n groot rooi lint en ’n verjaarsdagwens in oranje spuitverf bo-op) met ’n vurkhyser in haar oprit gaan aflaai. Die twee het glo ’n uitgerekte dispuut oor geld.

Nadat sy vrou ’n klag by die polisie aanhangig gemaak het teen hom omdat hy geweier het om die rots te verwyder, het Larivière aan die media gesê dat sy vrou nooit tevrede was met die grootte van haar steun nie en dat hy hoop dat sy dié keer tevrede sou wees. Sy “geskenk” was glo ’n poging om finaal van haar ontslae te raak. Die polisie-ondersoek duur voort.

Hierdie klink dalk na ’n absurde storie. Tog, hoeveel keer het ons nie ook al “rotse” op diegene rondom ons se lewens gelaai nie? Ons rotse is dalk nie fisiese rotse nie, maar besef jy dat jou afbrekende woorde soos rotse word wat jy bo-op ander se koppe pak en wat hulle in die grond laat wegsak? Of besef jy dat ’n wrok wat jy koester teen iemand anders of ’n onvergewensgesindheid wat jy in jou hart ronddra soos ’n rots word wat aan jou hart hang en jou verhoed om ’n lewe in oorvloed te lei?

Die Psalmdigter het verstaan dat hierdie “rotse” wat ons na ander slinger of wat ons met ons saamdra ons verhouding met God affekteer. Luister na die Psalmdigter se woorde in Psalm 24:3-5: “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan? Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is, wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie. So iemand sal van die Here seën ontvang, en God, sy redder, sal reg aan hom laat geskied.”

Het jy rein hande en ’n suiwer hart of is daar ’n paar “rotse” wat jy vandag in jou lewe kan identifiseer? Kom ons vra God om ons te versterk en in staat te stel om op ons vurkhyser te klim en al daardie onwelkome “rotse” in ons lewens te verwyder. Só sal ons God se seëning ontvang en beleef hoe Hy reg in ons lewens laat geskied! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek U kan vra om my te help om die “rotse” in my eie lewe te identifiseer. Lei my asseblief ook deur u Heilige Gees om daarvan ontslae te raak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Kyk gerus na ’n foto van die 20-ton klip hier: http://www.theglobeandmail.com/news/national/quebec/mayor-faces-probe-over-dumping-boulder-on-ex-wifes-driveway/article2130055/

**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.

NUUSBROKKIES:

  • VROUEKAMP:
  • Benescke Janse van Rensburg tree op as spreker hierdie naweek 19-21 Augustus 2011 op Bredasdorp. Vir meer inligting, kontak Riana Coetzee by  This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  • ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.

TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..  

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit kan oor enigiets wees. Ons deel dit van tyd tot tyd met die lesers. Dankie. Benescke

As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 22 Augustus 2011 Prev Next article: Vers n dag - 18 Augustus 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.