Vers n dag - 18 Augustus 2011
Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms
DAG 33: GOD HET SY SEUN VIR ONS GEGEE
Deur Benescke Janse van Rensburg
’n Paar jaar gelede het die National Geographic tydskrif ’n storie gedra wat van ’n insident in die Yellowstone Nasionale Park in Amerika vertel het. Na ’n verwoestende veldbrand in die park het ’n groep veldwagters teen ’n berg opgestap om die aanvanklike skade van die brand te bepaal. Aan die voet van een van die groot bome het hulle ’n geraamte van ’n voël, feitlik heeltemal bedek met as, raakgesien. Dit was vreemd dat die voël met die naderende vuur nie weggevlieg het nie.
Die veldwagter het nader gestap en met sy stapstok die karkas van die voël van die boom afgelig. Skielik het hy na sy asem gesnak. Onder die vlerke van die dooie voël het drie lewende kuikens geskuil. Die veldwagter het besef dat die ma wat bewus was van die naderende vuur haar kuikens na die voet van die boom gelei het waar die minste rook was. Dáár het sy haar beskermende vlerke uitgesteek en haar lewe gegee om haar kuikens te beskerm.
Kom vir ’n oomblik saam met my 2000 jaar terug in tyd. Sien jy die Man wat aan die middelste houtkruis op die heuwel van Golgota hang? Sien jy die bloed wat teen sy gesig afstroom? Hoor jy hoe hy hard uitroep: “Eli, Eli lema sabachthani?” voordat sy kop teen sy bors sak en Hy sy laaste asem uitblaas? Dit is Jesus Christus van Nasaret. Net soos die voëltjie in die park het Jesus sy lewe opgeoffer sodat ons van ons sonde vrygekoop kon word.
In Psalm 22 sien ons ’n voorspelling van God se versoeningsplan wat jare later sou volg in die Psalmdigter se woorde in Psalm 22:2: “My God, my God, waarom het U my verlaat. . .?” Sonder dat die Psalmdigter dit besef het, het hy Jesus se koms voorspel en aan die kruis het Jesus deur ’n oomblik van absolute godverlatenheid gegaan sodat ons dit nooit vandag hoef deur te gaan nie.
As jy dus ooit weer alleen en godverlate voel, herinner jouself aan die woorde in Psalm 91: 2,4: “Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. . . Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is ’n skild en pantser.”
Jesus het vir ons gesterf sodat ons vandag met vrymoedigheid ’n verhouding met God kan bou. Kom ons kies dus om in elke vreesagtige situasie na Hom te draai en onder sy vlerke in te klim. Hy beloof om ons keer op keer te beskerm. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U ’n verlossingsplan bedink het om elkeen van ons finaal van sonde vry te koop en met U te versoen. Help my om daagliks nader aan U te groei. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte.
NUUSBROKKIES:
- VROUEKAMP:
- Benescke Janse van Rensburg tree op as spreker hierdie naweek 19-21 Augustus 2011 op Bredasdorp. Vir meer inligting, kontak Riana Coetzee by
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. - ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. if you want to change your subscription.
TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na:
HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na
As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus