Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 31 Augustus 2011

Tema vir die maand: Ontdek God in die Psalms

Het jy die reeks geniet? Stuur gerus terugvoer na terugvoer@versndag.co.za

DAG 42: TEN SLOTTE. . .

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: Baie dankie aan elke leser wat oor die afgelope reeks bygedra het om die reis deur die Psalms ’n onvergeetlike een te maak. Sommige lesers het via e-pos vertel hoe hulle God se karakter nuut ontdek het. Ander het vertel hoe God hulle deur moeilike tye gedra het omdat hulle op sy beloftes in die Psalms begin mediteer het en nog ander het vertel hoe hulle vir die eerste keer hulle uniekheid begin uitleef het omdat hulle besef het dat God hulle geskape het soos wat hulle is vir ’n spesifieke rede. Vandag sluit ek hierdie reeks af met ’n slotgedagte rondom die Psalmdigter, Dawid, die man wat God as ’n man ná aan sy hart beskryf het.]

Kom vir ’n oomblik saam met my terug in tyd na waar die profeet Samuel saam met Isai, Dawid se pa, langs die tafel sit. Nadat Saul ongehoorsaam aan God was, het God hom as koning van Israel verwerp en vir Samuel gestuur om ’n nuwe koning uit Isai se huisgesin te gaan salf (1 Samuel 16).

Sien jy hoe Eliab, Isai se oudste seun, die vertrek binnekom? Sy buitengewone lengte en aantreklike voorkoms maak hom die perfekte kandidaat om Saul as koning op te volg. Luister egter na God se woorde aan Samuel: “Ek kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar Ek kyk na die innerlike.” Hierna volg Abinadab en Samma, Isai se tweede en derde seuns. Ook is geeneen van hulle twee God se keuse vir die volgende koning nie.  

’n Frons verskyn nou op beide Isai en Samuel se voorkoppe. Het Samuel verkeerd gehoor? “Is dit al jou seuns dié?” vra hy half ongemaklik. Vir ’n oomblik is dit stil in die vertrek voordat Isai antwoord: “Wel, die jongste is nog oor, maar hy pas skape in die veld op.”

In die veld, waar die res van die wêreld skynbaar van Dawid vergeet het, het God hom dopgehou. God het gesien dat Dawid streef daarna om met ’n rein hart voor Hom te leef. Hy het gehoor hoe Dawid sy grootheid en almag deur die Psalms wat hy geskryf het besing. En met die aanvalle van bere en leeus in die veld, het God beleef hoe Dawid vir sy beskerming volkome op Hom vertrou het.

Dan knik Samuel: “Isai, laat haal jou jongste seun. Ons eet nie voordat hy hier is nie.” Dit is toe die windverwaaide tiener met die rooi gelaatskleur in die deur staan, dat Samuel duidelik God se opdrag hoor: “Staan op, salf hom, want dit is hý.”

Psalm 66:10: “Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ’n mens silwer louter.”

Omdat Dawid God se toets van sy karakter deurstaan het en God hom kon vertrou, het Hy hom op die regte oomblik tot koning van Israel bevorder. Voel jy vandag asof jy deur ’n seisoen gaan waar die wêreld (en selfs God) van jou vergeet het? Net soos God nie van Dawid vergeet het nie, vergeet Hy ook nie van jou nie. Kom ons slaag die karaktertoets in die “veld” waar niemand ons sien nie, sodat God ons kan bevorder waar die wêreld se oë op ons is. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U in beheer van my lewe en toekoms is. Help my om in elke seisoen getrou te bly met die wete dat U my voorberei om gereed te wees vir die volgende seisoen wat U vir my beplan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Het jy die reeks geniet? Stuur gerus terugvoer van die reeks na terugvoer@versndag.co.za

 **Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en vryskutskrywer vir verskeie tydskrifte. Vir meer inligting, besoek www.benescke.co.za.

NUUSBROKKIES:

  • ENGELSE WEERGAWE: Vers-’n-dag is also available in English. Please contact us at vers@versndag.co.za if you want to change your subscription.
  • MOTIVERINGSPRAATJIES:  Benescke tree op as spreker:
  • 22 September 2011, Stellenbosch. Kontakpersoon: Minette by eve@sg.org.za
  • 5 November 2011, Bloemfontein. Kontakpersoon: Mariana by immelman@sentraal.co.za

TERUGVOER: Stuur gerus terugvoer, opmerkings en voorstelle oor die dagstukkies of Bybelvrae wat jy het na: terugvoer@versndag.co.za.  

HET JY ’N GETUIENIS? Stuur vir ons jou getuienis van waar God vir jou deurgekom het na getuienisse@versndag.co.za. Dit kan oor enigiets wees. Ons deel dit van tyd tot tyd met die lesers. Dankie. Benescke

As jy belangstel om jou produk of diens op die Vers-’n-dag-dagstukkie te adverteer, kontak gerus borge@versndag.co.za. Sonder die nodige ondersteuning sal hierdie diens nie moontlik wees nie.

Previous article: Vers n dag - 1 September 2011 Prev Next article: Vers n dag - 30 Augustus 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.