God is aan jou kant – Hy maak jou volkome vry - 23 Oktober 2019
Louise Gevers
Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk en vir hulle gesê: “Wat redeneer julle by julleself? Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.” Toe sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” Lukas 5:22-24
Lukas sê dat die Fariseërs en die leermeesters van die wet was afkomstig "van oral af uit die dorpe van Galilea en Judea en selfs uit Jerusalem ... en die Here het vir Jesus die krag gegee om mense gesond te maak." (Lukas 5:17) Hierdie elemente vorm die spanningslyne in die drama wat regdeur Jesus se bediening ontwikkel het: die ongeloof van die Fariseërs en leermeesters van die wet teenoor Jesus se kragtige genesing van liggaam, verstand en gees in die mense wat Hy ontmoet het, en die gesag van sy leringe.
Toe ek as kind vir die eerste keer van hierdie wonderwerk gehoor het, het dit my ìn vervoering gelaat. Ek kon die mans visualiseer wat hulle verlamde vriend deur die dak neerlaat om deur Jesus genees te word. Ek kon my met groot vreugde voorstel hoe opwindend dit moes gewees het om deur die dak in Jesus se teenwoordigheid neergelaat te word, terwyl dit onmoontlik gelyk het om by Hom uit te kom. My voorstelling van die man wat in ekstase wegstap met sy bed wat hy dra, wonderbaarlik genees en in staat om te loop, het my verdere vreugde verskaf.
My eenvoudige, kinderlike begrip van die verhaal het my egter geen idee gegee van die onderliggende sake wat daardie dag daar afgespeel het nie – dit was net 'n fantastiese wonderwerk. Dat die Fariseërs slegs kon sien dat Jesus gelaster het deur vir die verlamde man te sê dat sy sondes vergewe is, en nie die genade wat Jesus, omdat Hy van God was en sy Gees in Hom was, aan die man bewys het deur hom die krag te gee om weer te kan loop nie, het by my verbygegaan.
Die feit dat die Fariseërs, nie soos die ander teenwoordig, 'n geloof vol verwagting gehad het nie is duidelik in hulle reaksie op Jesus wat vir die man sê dat sy sondes vergewe is, anders sou hulle bly gewees het oor die uitkoms. God se krag was teenwoordig en die Fariseërs en die leermeesters van die wet sou definitief die nuus van Jesus se leringe en genesings by hulle terugkeer saamgeneem het. Jesus het hulle gedagtes wat Hom van laster beskuldig het, geken. Ironies het dit bevestig dat Hy God is en hulle deur die sonde verlam is.
Sonde en siekte is met mekaar verbind. Toe Jesus die verlamde man se sondes vergewe het, was hy ook nie meer verlam nie en was hy vry. Sy getroue vriende wat alles probeer het om die verlamde man in Jesus se teenwoordigheid te kry, is ook beloon, toe Jesus wat bly was om hulle geloof te sien, hulle vriend van sy verlamming bevry het." Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.” (Lukas 5:20) Die man en die skare het huis toe gegaan en God geprys.
Laat ons ook in geloof na Jesus toe kom en Hy sal ons vry maak.
Gebed: Genadige Here Jesus, vergewe asseblief my sonde en neem die verlamming van my hart, verstand en gees weg sodat ek u Naam kan eer. Amen