God is aan jou kant – Hy bevry jou van jou vrese - 24 Oktober 2019
Louise Gevers
Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Lukas 1:30-31
Wanneer 'n mens aan al die verse in die Bybel dink wat begin met, "Moenie bang wees nie …", weet jy dat daar nie 'n situasie bestaan wat 'n gelowige hom in kan bevind en nie bemoediging, troos en krag uit Gods Woord kan put nie. Daar is iets kragtig en oortuigend in elke vers want dit is deur die Heilige Gees geïnspireer en Hy maak dit lewend.
As Maria die toekoms in kon kyk na Romeine 8:28, sou sy miskien nie eers die engel se "Moenie bang wees nie" nodig gehad het nie, want sy sou al geweet het "dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is." Heel moontlik het sy reeds Jesaja 41:10 geken: "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou."
Vir Maria was daar baie om voor bang te wees. Sy was jonk en verloof en daar was baie vrae wat sy moes beantwoord, om van die gewone vrese wat enige jong, verwagtende moeder het, nie eers te praat nie. Sy was dalk baie bang vir die engel. Maar Maria het in geloof en blydskap gereageer. Sy het guns by God gevind en sy het sy goedheid vertrou. Hy sou haar dra in die tyd wat vir haar voorlê.
Haar antwoord was 'n lofsang wat Hom verhef omdat Hy oor haar geringheid omsien en sy erken met vreugde dat Hy haar geseën en groot dinge aan haar gedoen het. En dan loof sy Hom omdat Hy groot is en sy sê: "Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer." Sy prys Hom ook omdat Hy geringes verhoog … en behoeftiges … oorlaai met goeie gawes … " Sy beloftes aan Israel het Hy gehou. (Lukas 1:46-55) Maria konsentreer op al die goeie en groot eienskappe van God. Selfs al was sy so jonk en het daar 'n uitdagende tyd vir haar voorgelê, het haar hoë aansien van God alle vrees verwyder.
Dit is dieselfde vir elkeen van ons wat op God vertrou. Dit is nie wat in ons lewens gebeur wat saak maak nie, maar wel die feit dat God elke tree van die pad by ons is. Ons het die keuse om Hom in sy grootheid te sien en, soos Maria, Hom te loof. Of op die dinge wat ons angs veroorsaak te fokus en in vrees te leef. Maria, hoog swanger het op 'n donkie na Betlehem gereis en veilig aan Jesus geboorte gegee in 'n stal voordat sy na Egipte moes vlug om te keer dat koning Herodes Hom doodmaak.
Hoe groot is ons God. Wat is jou vrese?
Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, …" (1 Johannes 4:18)
Gebed: Vader, ek weet dat U liefde is en dat daar geen rede vir my is om bang te wees nie. Help my om te onthou dat daar niks is wat my van u liefde in Jesus Christus, ons Here, kan skei nie. Amen