God is aan jou kant - Sy Gees bring die waarheid - 28 Oktober 2019
Louise Gevers
"Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig." Johannes 15:26
Toe Jesus geweet het dat sy tyd om na sy Vader terug te keer naby is, het Hy probeer om sy dissipels voor te berei deur 'n metafoor vir hoop te gebruik om hulle te help: "n Vrou kry swaar wanneer haar tyd gekom het en haar kindjie gebore word. Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar 'n mens in die wêreld gekom het. (Johannes 16:21) Dit is waar.
Waarheid is 'n noodsaaklikheid in die lewe. Deur dit word ons bekragtig om te weet wie en wat ons kan vertrou, en wat goed is vir ons, terwyl misleiding vernietigend is en skade en gevaar veroorsaak. Jesus vergestalt die waarheid en Hy stuur sy Gees om die waarheid oor God aan sy kinders te openbaar. Dit rus hulle toe vir diens in die verspreiding van die evangelie om ander van misleiding te red.
Die waarheid was belangrik vir Abraham. Hy was bekend as die vriend van God, maar volgens Joodse tradisie het sy vader, Tera, afgodsbeelde gemaak. Die verhaal lui dat eendag was Abraham in beheer van sy pa se winkel, toe 'n man instap en vra om 'n afgodsbeeld te koop. Abraham het hom gevra hoe oud hy is en die man het geantwoord: "Vyftig jaar." Abraham het gesê: "Jy is vyftig jaar oud en jy wil 'n beeld aanbid wat een dag oud is." Die man het vertrek beskaamd.
In Jesaja spot God met diegene wat afgodsbeelde maak: "Sulke mense weet nie wat hulle doen nie, hulle het nie insig nie, hulle oë is toegepleister, hulle sien nie, niks dring tot hulle verstand deur nie. Hulle kom nie tot besinning nie, hulle het te min kennis en verstand om te sê: “'n Gedeelte van die hout het ek verbrand, ek het op die kole kos gaar gemaak, ek het vleis gebraai en geëet, en moet ek nou van wat oor is 'n afskuwelike afgod maak, moet ek voor 'n stuk hout buig?” (Jesaja 44:18-19) Sy kinders hoef nooit mislei te word nie want ons kan die Heilige Gees, die Helper wat Jesus van die Vader stuur, vertrou om die waarheid aan ons te openbaar.
Sy uur van lyding wat vir die dissipels groot hartseer sou bring, was naby, maar hulle hartseer sou net vir 'n kort rukkie wees totdat hulle Hom weer sien en "julle harte vol blydskap [sal] wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie" (Johannes 16:22) "en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” (Johannes 8:32) Hulle hartseer sal net so gou vergete wees as dié van die moeder nadat haar baba gebore is.
Jesus moes na sy Vader terugkeer sodat die Heilige Gees in krag kon kom op 'n manier wat Jesus nie kon nie. Alhoewel Jesus fisies teenwoordig was, was Hy tot een plek beperk, terwyl die Gees onbeperk is en 'n baie groter invloed op die lewens van Gelowiges het. Hy verander die lewens van mense en maak dit moontlik vir hulle om deur die waarheid die evangelie te versprei.
Gebed: Genadige Gees, ek is so dankbaar vir U teenwoordigheid in my lewe en dat ek vry is omdat U die waarheid aan my openbaar. U help ons altyd en lei ons in die waarheid, in dit wat reg en goed is en eer aan God bring. Amen