Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God is aan jou kant - Hy alleen laat jou planne slaag - 25 Oktober 2019

Louise Gevers

Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.  Psalm 37:4

Met al die beplanning wat ons daagliks op verskillende vlakke doen, is daar gereeld slaggate; en of jy nou geen middagete neem nie of as gevolg van swak beplanning die vliegtuig verpas, dit het 'n impak op jou lewe. Selfs wanneer ons meer geoefen is, besef ons dat, ten spyte van versigtige beplanning, dinge steeds verkeerd kan loop. Die koördinering van al die verskillende elemente in komplekse situasies is baie uitdagend en verseker ongelukkig nie altyd sukses nie.

Toe ek jonk was, was een van my ouers se planne wat ons kinders baie opgewonde, maar ook 'n bietjie bang gemaak het, 'n besoek aan die inryteater. Ons het baie daarvan gehou om teen skemertyd aan te kom, geklee in ons japonne en pantoffels, gereed om ons worsbroodjies in die motor te eet terwyl ons na die film kyk en dan op pad huis toe aan die slaap te val – so waarom die angs? Die reën! Ons het geweet dat die reën daardie plan kon kelder en daarom het ons die hele week die lug angstig dopgehou. Ons wou nie Vrydagaand by die huis bly en na Squad Cars oor die radio luister nie! Hierdie mag dalk na 'n eenvoudige plan klink, maar in sy konteks baie belangrik.

Wanneer ons beplan is daar baie dinge waaroor ons geen beheer het nie. Ons moet al ons planne, klein en groot, in geloof en vertroue aan die Here oorgee want Hy beskik oor alle krag en dra ons belange op die hart: "Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!" (Jeremia 29:11)

Salomo se raad is: "Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk." (Spreuke 16:3) Ons vergeet soms net hoe groot God is en hoeveel ons sy wysheid in ons lewens benodig. Hy is altyd in 'n beter posisie as ons. Ons moet soms egter aanvaar dat die Here se idee van sukses nie noodwendig dieselfde as ons s'n is nie.

Ek het al soms baie deeglik gebid voordat ek iets aanpak net om uit te vind dat dit nie heeltemal uitwerk nie en dat struikelblokke vordering belemmer het. En tog, as ek nou terugkyk besef ek die aangepaste plan het wonderbaarlik uitgewerk omdat die Here sekere faktore in ag geneem het waarvan ek, met my beperkte kennis en begrip, niks van geweet het nie.

So, nou wanneer planne "nie uitwerk nie" selfs al bid ek daarvoor, vertrou ek dat God deur sy wysheid alles ten goede laat meewerk en ek is nie meer verras wanneer my verwagtinge heeltemal oortref word en baie meer mense langs die pad daardeur seën ontvang nie.

Gebed: Vader, U alleen beskik oor die krag om gebede te verhoor en om ons planne te laat slaag. Ek gee my planne aan U oor en ek vertrou op U. Amen

Previous article: God is aan jou kant - Sy Gees bring die waarheid - 28 Oktober 2019 Prev Next article: God is aan jou kant – Hy bevry jou van jou vrese - 24 Oktober 2019 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.