Ben Fourie

“Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie.”  Deuteronomium 10:17

In hierdie enkele vers word ’n magdom inligting aangaande God meegedeel. In dié hoofstuk in Deuteronomium kap Moses op bevel van God twee nuwe kliptafels en neem dit bergop waar God weer die gebooie daarop skryf. Nadat Moses dit in die ark wat deur hom gemaak is gebêre het, trek die volk vêrder op die pad na die beloofde land. Moses bly op die berg, maar God gee hom die opdrag om saam met die volk te trek. Hy moes die mense bly onderrig oor hulle gehoorsaamheid aan God. Na ’n aantal vermaninge kom hierdie wonderlike lofbetuiging. Die rede waarom die volk Hom moet gehoorsaam is nie uit vrees of ander oorwegings nie, maar alleen om die volgende:

Eerstens is Hy húlle God. Bo al die ander volke het Hy húlle uitgekies om sy verbondsvolk te wees. Wat ’n ontsaglike voorreg. Hoe bevoorreg is ek en jy nie om ook deur God gekies te word om deel te wees van sy kerk op aarde nie.

Tweedens is hy die enigste ware God. Weer eens, wat ’n voorreg vir Israel maar ook vir ons om deur die enigste ware God gekies te word om aan Hom te behoort.

Hy is veral ook El Hagadol die groot God, die magtige. In vergelyking met Hom is die afgode van die ander volke niks werd nie. Meer nog, Hy is in staat om deur sy krag die volk die beloofde land in te neem en teen die vyandelike volke te beskerm. Ook vir ons is sy groot krag gedurig aan die werk om ons teen dinge wat ons skade kan aandoen te beskerm.

Hy is verder die Een wat wonderdade doen soos die volk duidelik kon sien uit alles wat Hy vir hulle gedoen het en Hy doen dit vandag nog op ’n daaglikse basis in ons lewens, al herken ons dit nie altyd nie.

Laastens word hy genoem as die God wat absoluut regverdig is, niemand voortrek nie en nie omgekoop kan word met ons nietige beloftes en geloftes nie.

Wat ’n vreugde om hierdie God te dien.

Gebed: Maak my asseblief elke dag al meer bewus van wie U werklik is.  Amen