Ben Fourie

“Daar is buiten my geen God nie, net Ek is ’n God wat regverdig is en red.” Jesaja 45:21b

Ons het in gister se dagstukkie geraak aan die idee van God as regverdig. Vandag gaan ons hierdie baie belangrike siening oor God verder verken en ook vra na hoe regverdig ons self in ons optrede is. In die Bybel is die naam tsaddik gegee aan ’n persoon wat bekend was as iemand wat regverdig optree en ook toesien dat ander regverdig optree, veral by die wetlike toepassing van die reg.

Dit is van groot belang dat wanneer ons die naam El Tsaddik, Regverdige God, hier lees, dit nie Jesaja of ’n ander mens is wat hom so noem nie, maar dat dit Hy self is wat aan die woord is. Op ander plekke byvoorbeeld Psalm 7 is dit die digter wat van God praat as die een wat reg laat geskied, maar hier noem hy Homself regverdig en koppel dit ook aan sy reddende genade.

Die woordeboek sê die woord regverdig beteken dat iemand eerlik en onpartydig is. Die woord kom dikwels in die Bybel voor en word gebruik om na God te verwys, maar ook na mense, veral in Job, Psalms en Spreuke. Deurgaans word iemand wat regverdig genoem word, hoog geag. Volgens die Bybel is regverdigheid een van die grootste deugde. Van jou en my word ook verwag om op alle vlakke van die lewe regverdig op te tree teenoor ons lewensmaats, ons kinders, werknemers of wie ook al en ook om eerlik te wees in iets eenvoudiger soos sport en spel.

God se regverdigheid is egter op ’n heel ander vlak. Ons misluk dikwels deur partydig en oneerlik te wees wanneer regverdigheid van ons gevra word. Hy is altyd eerlik en onpartydig soos ons kan sien in die feit dat niemand vir Hom te gering is nie. Hy wil dat almal gered sal word, ryk en arm, bekend en onbekend, ek en jy.

Gebed: Baie dankie dat U nie witbroodjies het nie. Amen