Vers n dag - 5 Desember 2011
Wysheid as ʼn geskenk van God
Hennie Symington
As jy droom van blinkers en goud en silwer vir Kersfees, gaan steek eers kers op by Sofia wat Wysheid beteken. Job leer ons dat die wysheid kosbaarder en skaarser is as goud, pêrels en edelmetale - want God wat alles geskep het en alles weet, is ook die skepper en gewer van wysheid.
Die Wysheid, wat sedert die grondlegging van die aarde teenwoordig was, is ʼn wonderlike gawe aan die mens. Dit bring insig sodat jy jou lewe op ʼn verstandige en intelligente wyse kan bestuur. Wie kan tog in ons komplekse wêreld besluite neem sonder insig? Om te kan besluit oor lewe of dood, hoe om ʼn sinvolle lewe te lei en gedisiplineerde kinders groot te maak, hoe om die huwelik die moeite werd te maak en ʼn duisend ander sake verg inderdaad goddelike wysheid.
Die wysheid in die vlees
In die Nuwe Testament ontmoet ons wysheid in die vlees. Jesus wat ook vanaf die begin reeds by God was, kom na ons toe en maak die wysheid sigbaar vir die mens. Sy wysheid is egter nie van hierdie wêreld nie, maar is broodnodig vir hierdie wêreld. En al hoe ons hierdie wysheid kan ontvang, is as ons ons harte oopmaak en ons maatstaf in lyn bring met God se maatstaf.
Helaas, God se wysheid was nog nooit in die mode nie want in ons sekulêre kultuur, wat vergeet het dat daar ʼn ander of diep geestelike dimensie aan die lewe is, en materialisme ons siel in sy sak het, het ons nie eintlik plek vir die wysheid van God nie. Vir ons is prestasie, rykdom en voorkoms ons belangrikste waardes.
Paulus sê nie verniet: Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, ... maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense .... 1 Korintiërs 1:22;24-25a.
Goddelike wysheid is nie te vinde in die geskiedenis of boeke of geleerdheid nie. Alleen die Gees kan getuig van hierdie geskenk van God in ons lewens. Die Wysheid dek haar tafel en nooi ons uit om aan te sit en te eet (Spreuke 9:1-6). Dis beter as die kerskalkoen en hou langer as die opwinding van die dag. Mag jy vanjaar meer as net die wyse manne op jou pad teëkom. Mag jy kennis maak met die Wysheid self.
Gebed: Here, ons soek wysheid in ons eie insig terwyl U die wysheid van die skepping as gawe aan ons gegee het. Daarom is ons gebed: gee ons wysheid, Here.