Vers n dag - 6 Desember 2011
Ontasbare geskenke
Hennie Symington
Maak nie saak hoe oud ʼn mens word nie, almal geniet ʼn geskenk. Selfs diegene van ons wat al baie Kersfeeste gesien kom en gaan het, kan nie wag om te sien wat ons gekry het of om te sien hoe ander reageer op ʼn geskenk wat jy gekoop het nie.
Ongelukkig het die slang sy kop in hierdie paradys ook ingesteek. Groter, duurder en beter het die maatstaf geword en het dit baie belangriker geword om te ontvang as om te gee. Dalk moet ʼn mens vanjaar anders dink oor geskenke.
In die Woord is daar ʼn hele lys van geskenke wat ontasbaar maar van onskatbare waarde vir ons as Christene is. Die Bybel praat van geestelike gawes wat direk deur God aan ons geskenk word.
Hoe maak ons hierdie gawes sigbaar?
Gee die gawe van ʼn aangename houding
As norsheid jou “default” gesiguitdrukking geword het en negatiewe opmerkings jou kenteken, is dit tyd om die aangename geur van God se liefde in jou lewe te versprei. Dit kom nie ʼn spuitkannetjie nie; dit kom uit ʼn hart vol blydskap oor God se gawe van die lewe.
Gee die gawe van lieftalligheid en aanvaarding
Soms is dit baie moeilik om die mense wat daagliks oor jou pad kom te aanvaar. As iemand nie vriendelik genoeg is nie, is hy dikmond; as hy oorborrel van vriendelikheid is hy te voorbarig, en so gaan dit aan. Om van bedelaars by die straathoek nie eens te praat nie. Kom ons gooi die negatiwiteit oorboord en geniet liewer die wonderlike verskeidenheid van mense in alle groottes en kleure wat deel van God se skepping is.
Gee die gawe van lag
Daar is darem niks lekkerder as iemand wat uit sy hart uit lag nie. In plaas van kla oor “Jingle Bells” wat jou die hele Kersgety in die winkels irriteer, lag eerder oor die koddige Kersvader met sy warm rooi jas en wit baard in die middel van die somer. Of lag ʼn slag saam met mense in plaas van vir ander. Vreugde is werklik ʼn wonderlike gawe van God.
Gee die gawe van luister
Gaan sit by iemand wat ʼn oor nodig het en luister sonder om vooraf te besluit hoe jy gaan reageer en sonder om skelm op jou horlosie te kyk.
Gee die gawe van gasvryheid.
Mense vandag is geweldig gesteld op hulle privaatheid. Ons sal self besluit aan wie ons gasvryheid sal betoon. En tog word gasvryheid hoog gereken op die vereistes vir ʼn Christelike leefwyse. Paulus vra mooi: “Help die medegelowiges in hulle nooden lê julle toe op gasvryheid. Romeine 12:13
Die Bybel praat van die oorvloedige gawes van die Gees. Gaan lees gerus die hele Romeine 12:9-21 en maak dit jou geskenklysie vir die jaar. Jy sal verras wees oor die skatte wat jy daarin vind.
Gebed: Here, ons lewens is dikwels deurspek met negatiwiteit en liefdeloosheid terwyl u Woord ons tydig en ontydig aanmoedig om die Christelike liefde in oorvloed uit te deel. Help my om dié Kersfees weerloos te wees in my oorvloedige gawes aan ander.