Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 8 Desember 2011

Kry ʼn nuwe hart persent!

Hennie Symington

Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil.

Johannes 5:21

Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” Openbaring 21:5

Die einde van die jaar bekruip ʼn mens gewoonlik soos ʼn dief in die nag en skielik lê die Kersvakansie met al sy eise voor. Dis fliek toe, dis Kersinkopies doen, kosmaak vir familie, regmaak vir vakansie. En op hierdie sneltrein na nêrens vergeet ons dat God ons nie net gemaak het om te werk nie, maar ook om spelende, singende, laggende en biddende mens te wees. Geen mens is egter lus vir bid of speel as hy tot satwordens toe moeg is van die dolle gejaag nie.

“Gee my jou hart ...”

Luister mooi: daar is Iemand wat saggies in jou oor kom fluister en sê: “My kind, gee my jou hart. Hy lyk glad nie goed nie en moet heeltemal opgeknap word. Om die waarheid te sê, Ek sal ʼn hartoorplanting moet doen. En as Ek klaar is, gaan jy ʼn nuwe mens wees. Daar gaan ʼn verandering in jou lewe kom. Nie net jou hart nie, maar jou oë, jou ore en jou voete gaan verander. Jy gaan dinge anders sien as voorheen en jy gaan luister na die goeie eerder as die kwade. En jou hande gaan jy gebruik om mee uit te deel eerder as om mee in te palm. En met jou voete loop jy die pad van geregtigheid in plaas van die winkels plat. Boonop kry jou tong ook sommer ʼn ‘make-over’ sodat geen negatiewe en afbrekende woorde daar kan tent opslaan nie.

“Onmoontlik,” dink jy. Glad nie. Hierdie soort hernuwings of rekonstruksies vind elke dag plaas, maar haal selde die hoofopskrifte. Jy sal verbaas wees oor hoeveel mense met ʼn nuwe voorkoms rondloop. En jy kan dalk een van hulle wees.

Gebed: Here, dankie dat U u Seun geskenk het in ruil vir ʼn nuwe hart sodat ons die wêreld kan wys dat ʼn nuwe begin nie net ʼn vae moontlikheid is nie maar ʼn werklikheid.

Previous article: Vers n dag - 9 Desember 2011 Prev Next article: Vers n dag - 7 Desember 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.