Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 7 Desember 2011

God skenk opnuut die Kind in die krip

Hennie Symington

Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.  ...Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Johannes 1:5;9-10

Ons ken almal daardie “eerste eensaamheid”. Dit is daardie verlange na vriende, familie, jou geliefdes, ʼn plek om te woon. Maar wanneer jy al daardie behoeftes bevredig het, kom daar ʼn “tweede eensaamheid” oor jou, sê die teoloog Henri Nouwen.

In hierdie tye waarin ons die Christus verwag, en daarmee saam sy geboorte herdenk, roep God ons op tot ʼn diep, persoonlike nabyheid. Hierdie “tweede eensaamheid” vra van ons om ook die tweede myl saam met God te stap. Dit vra van my om vir ʼn rukkie te onttrek van al die dinge wat vir my plesierig, onmisbaar of sommer net lekker is. Dit vra van my om gedurende die feestyd vol pret en plesier na te dink oor wat Kersfees werklik vir my beteken. Dit vra van my om die pad na Betlehem te stap en die Kind in die krip opnuut as ʼn betekenisvolle en onmisbare geskenk aan my te ervaar.

Hierdie verlange na God is my antwoord op God se verlange na my. Dit dwing my om God van naderby te leer ken en te weet dat die misterie van God wat mens word, ver bo my begrip is, maar tog die diepste sin van my lewe omvat.

Neem jou voor om vanjaar Kersfees meer as net ʼn fees van geskenke, partytjies, kos en plesier te maak. Neem jou stiltetyd dubbel so ernstig op en probeer om jou nie te skaar by die hordes wat elke jaar sorg dat rekordverkope ten spyte van toenemende armoede behaal word nie. Dis tog nie waaroor Kersfees gaan nie.

Gebed: Here, daar is tye waar ek so oneindig verlang na u teenwoordigheid. Dankie dat U met die Kind in die krip die droom van u nabyheid ʼn werklikheid gemaak het. Dankie Here, dat ek ten spyte van al die klatergoud rondom Kersfees, tog herinner kan word aan die egtheid van u geskenk aan die mensdom. Amen

Previous article: Vers n dag - 8 Desember 2011 Prev Next article: Vers n dag - 6 Desember 2011 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.