Vers n dag - 14 Desember 2011
Die gawe van die Christuskind
Hennie Symington
In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Kolossense 2:9-10a
Soms is dit asof Christus so in doeke toegedraai is in ons eie gedagtes, dat ons die volle impak van sy bestaan miskyk.
Besef ons werklik dat Christus gelyk is aan die Vader wat Hom in die Seun uitgestort het? Is ons bewus daarvan dat Christus met alles wat Hy is, in ons woon? As ons dit nie uit eie ervaring weet nie, dan bevestig die Woord dat ons deur Christus toebedeel is met elke geestelike gawe.
Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? Romeine 8:32
God se onbaatsugtige gawe van sy eie Seun, omvat ʼn “rykdom van wysheid en kennis” (Kolossense 2:3), “elke geestelike gawe” (Efesiërs 1:3) en die “volle 1natuur van God” (Kolossense 1:19). As ons dit weet, is daar geen nodigheid vir ons om ons geloof gedurig in stand te probeer hou met ʼn smag na tekens en wonderwerke om God se gawes aan ons te bevestig nie. Wanneer ons so bejag is op daardie dinge, trek ons God se versekering dat ons reeds in besit is van die gawes wat Hy deur Christus aan ons geskenk het in twyfel.
Dis nie die gawes wat ons nodig het nie; dis Christus. Deur Christus ontvang ons die gawes en deur Hom kry ons die ewige lewe. Om Christus te ontvang maak die verskil tussen godsdiens bloot ter wille van godsdiens en ʼn deurleefde geloof.
Kom ons verwyder die “geskenkpapier” vanjaar om Christus en leer ken Hom vir wie Hy werklik is: die Seun van God met al die eienskappe van God juis omdat Hy God is.
Gebed: Here, wat ʼn wonderlike waarheid dat ons deur u Seun die saad van die ewige lewe in ons eie harte dra. Gee dat ons hierdie waarheid met blydskap sal aanvaar. Amen