Vers n dag - 15 Desember 2011
Dra die krip met jou saam
Hennie Symington
Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voortbestem het tot ons ewige heerlikheid. 1 Korintiers 2:7
Wanneer die dag na Kersfees voel soos “the morning after” wil ʼn mens sommer net huil. Kersfees is verby en daarmee saam al die opwinding. Die nuutjie van geskenke is afgewerk en al wat oorbly is ʼn spul papiere en leë bokse. Die oorskietham staar jou weer in die gesig en gister se nagereg lyk soos ʼn ongelukstoneel.
Wat het dan nou geword van daardie Kersfeesgevoel?
Wees bly dat jy so voel. Dis hoe jy behoort te voel in die oordaad en oormaat wat Kersfees in ons tyd kenmerk. Eintlik begin Kersfees eers werklik na die feestelikheid verby is wanneer die gebeure gestroop is van alles wat blink en waardeloos is. Dis nou wanneer Christus in al sy eenvoud voor jou staan en jou die geskenk van ʼn leeftyd aanbied: Homself.
Ek wil julle nou nie vooraf van Kersfees en al die vrolikheid daarmee saam afsit nie. Hierdie sat gevoel in die nasleep van Kersfees is nie wat God wou gehad het nie. God het sy grootste reddingsplan van stapel gestuur toe sy Seun op aarde gebore is. Dit was nie vir Hom maklik om deur die pyn van geboorte te gaan in ʼn wêreld waar mense nie eens in hulle wildste drome kon dink wat dit van Hom geverg het om sy hemelse heerlikheid prys te gee vir die stof van die aardse nie.
Bêre die krip in jou hart
Nee, God, wat mens geword het is nie maar net ʼn enkele seisoen se opwinding en vermaak nie. Die geboorte van Christus is ʼn Godswonder. Kom ons bewaar dus die krip in ons hart om ons te herinner, soos die Israeliete die heilige ark van God oral met hulle op reis geneem het, aan God wat een keer, baie lank gelede by ons kom woon het om ons iets van sy heerlikheid te laat ervaar. Kom ons kyk verby die tydelike na die ewige waar God reeds vir ons deur sy Seun ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde voorberei het.
Geniet dus die vreugde en plesier wat die seisoen kenmerk, solank jy net ʼn plek in jou hart oophou vir die Lewende Christus wat jy nie na Kersfees in ʼn boks kan druk of wegpak nie.
Ns. Mag u vanjaar ʼn wonderlike Kersfees vir al die regte redes geniet – selfs al het jy elke geskenk waarvan jy gedroom het in jou kerskous ontvang!
Gebed: Jesus, U is groter as al die drome en begeertes van mense. U is soveel groter as die geskiedenis. U is ewig en tydloos – help my om die wonder van u menswording in my hart te koester. Amen