Vers n dag - 10 Januarie 2012
Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…
DAG 2: ’N NUWE JAAR... SONDER VREES
Deur Benescke Janse van Rensburg
In Oktober verlede jaar het ’n groep olifante in die Chobe Nasionale Park in Botswana teen laatmiddag hulle dors by ’n watergat gaan les. Toe die volwasse olifante niksvermoedend haar slurp in die water steek het ’n krokodil wat in die water gelê en wag het aan die olifant se slurp gebyt en met al sy krag daaraan bly vasklou...
Die olifant, wat besef het dat sy meer krag as die krokodil het, het vorentoe getree en met al haar gewig op die krokodil getrap. Dit het nie lank geneem voordat die krokodil onder die olifant se gewig geswig het en weg geswem het nie.
Net soos die krokodil die olifant onverhoeds betrap het, tref hindernisse ons ook soms sonder dat ons daarop voorbereid is. ’n Krisis by die werk, die ontdekking dat jou huweliksmaat ontrou is, die diagnose van ’n gevreesde siekte, ’n krisis met jou kind of ’n berig van ’n rooftog of moord (dalk selfs in jou straat).
Wat is jou reaksie te midde van daardie krisisse? Laat jy toe dat vrees jou oorweldig of herinner jy jouself daaraan dat Jesus die dood oorwin het en aan ons die mag gegee het om deur sy Heilige Gees in ons lewens die vyand te oorwin?
Luister weer na Jesus se woorde in Lukas 10:19 lees ons: “Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.”
Jesus stel ons in staat om op slange, skerpioene en ook krokodille (in die vorm van uitdagings en krisisse in ons lewens) te trap. Kom ons vra Hom dus om ons nuut met sy Heilige Gees te vul sodat ons soos die olifant ook met selfvertroue vorentoe kan tree en wag dat die krokodil ook wegswem! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U my deur u Heilige Gees versterk om elke hindernis wat my pad mag kruis te deurstaan. Help my om te besef dat geen uitdaging ooit vir U te groot is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Kyk gerus na die videogreep van die olifante hier: http://www.telegraph.co.uk/earth/wildlife/8834546/Crocodile-launches-attack-on-elephant.html
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.