Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 11 Januarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 3: ’N NUWE BEGIN... MET NUWE DOELWITTE

Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Bekende gesegde lui: “Die persoon wat nalaat om te beplan, beplan om te misluk.” Sonder duidelike doelwitte word ons soos iemand wat in sy of haar motor klim en sonder ’n eindbestemming begin ry. Maak nie saak hoe spoggerig die motor is of hoe vinnig dit kan ry nie, na ’n ruk sal die tenk petrol leeg wees en die persoon sal steeds geen bestemming bereik het nie.

Dink vir ’n oomblik waar jy oor ’n jaar van nou af wil wees. Wat wil ’n beter werk hê? Wil jy gewig verloor? Oorsee gaan? Beter verhoudings met jou familielede of kollegas by die werk hê? Toe, dink vir ’n oomblik.

Besef jy dat die manier hoe jy vandag en elke dag hierdie jaar gaan aanpak, jou nader of verder van daardie doelwitte gaan bring? Hier is twee wenke wat jou kan help met die stel van doelwitte vir 2012:

Wenk 1: Vra God se leiding

In Spreuke 16:9 lees ons: “'n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.” Voordat jy dus jou doelwitte neerskryf, vra die Heilige Gees om jou te lei. Vra spesifiek dat God aan jou sal wys wat Hy vir jou vir 2012 beplan.

Wenk 2: Wees spesifiek

Kry doelwitte vir die jaar, maar breek dit af na doelwitte vir elke maand en dan elke week. Kleiner doelwitte maak dit makliker om die groter doelwitte te bereik. Gebruik gerus hierdie sewe kategorieë as ’n vertrekpunt om doelwitte vir 2012 te stel:

  1. Werk (Wat wil jy in hierdie jaar in jou werkplek bereik?);
  2. Sosiaal (By watter vriende moet jy meer gaan kuier? Vir watter van jou ongelowige vriende moet jy meer bid?);
  3. Finansieel (Besluit watter gedeelte van jou salaris jy gaan spandeer om jou tiende te betaal, om te spaar of om armes te help);
  4. Verhouding met God (Besluit watter tyd van die dag jy saam met God gaan spandeer – byvoorbeeld ’n halfuur voor werk of ’n tyd oor middagete?);
  5. Familie (Besluit om gereeld vir jou familielede te bid en/of hulle gereeld te kontak);
  6. Gesondheid (Besluit om meer gesond te eet en meer oefening te kry);
  7. Drome (Neem ’n besluit om ten minste een van jou jare lange drome hierdie jaar te probeer verwesenlik).

Onthou, jy gaan dalk nie eensklaps daai oortollige 10kg afskud, ’n 10km wedloop kan hardloop of met jou onbeskofte kollega oor die weg kom nie. Tog, met dissipline, klein opofferinge en baie gebed, sal jy beleef hoe jy mettertyd makliker “nee” sê vir soetgoed, begin draf sonder ’n miltsteek en selfs ’n vriendskap met daai onbeskofte kollega kan aanknoop. Kom ons neem die eerste stap en beplan ’n onvergeetlike 2012! Sterkte.

 

Vader God, baie dankie dat ek U kan vra om my te lei om deur u Heilige Gees om hierdie jaar doelwitte te stel wat U op u hart vir my het. Gee ook asseblief aan my die krag om dit te bereik. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Previous article: Vers n dag - 12 Januarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 10 Januarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.