Vers n dag - 17 Januarie 2012
Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…
DAG 7: ’N NUWE BEGIN... NABY AAN GOD
Deur Benescke Janse van Rensburg
Verlede Vrydagaand het ’n Suid-Afrikaanse egpaar, Laurence Davis en sy vrou, Andy saam met ’n kleiner groep van die 4229 passasiers op die luukse Italiaanse passasierskip, Costa Concordia aangesit vir ete. Rondom 21:45 was daar ’n harde geluid toe die skip naby die eiland Giglio ’n rots tref. Hierna het chaos op die skip losgebars terwyl die passasiers en bemanningslede na reddingsbote skarrel.
Toe die Davis-egpaar sien dat die water by die skip instroom, het hulle besef dat hulle van die skip moes afkom. Laurence het sy bril in sy baadjiesak gesit, sy vrou se hand gevat en saam het hulle vier verdiepings ver tot binne-in die koue see gespring voordat hulle 100 meter na ’n eiland moes swem. Hier het hulle vir 45 minute gespook om verby die rotse die land te bereik. Die oorsaak van die ongeluk word aan die Griekse kaptein, Francesco Schettino se nalatigheid toegeskryf aangesien die skip 6km van roete af was. Teen Sondag het die dodetal op vyf gestaan terwyl 17 passasiers en bemanningslede steeds vermis word.
As ons ongehoorsaam aan God is, Hom uit woede van ons af wegstoot of iets anders in ons lewens bó Hom begin plaas, begin ons soos die Costa Concordia al vêrder van sy perfekte roete vir ons lewens, dwaal. Dit is dán dat ons die gevaar loop om rotse te tref wat ons lewens groot skade kan berokken.
Is dit hoe jy vandag voel? Só vêr van God af dat jy nie meer weet hoe om na Hom toe terug te keer nie. Só vasgevang in die yskoue water van uitdagings dat jy nie meer hoop het dat jy land sal bereik nie? Luister weer na die woorde in Handelinge 3:19: “Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.” En in Jesaja 35:4 staan geskryf: “Wees sterk, moenie bang wees nie … God kom julle red!”
God kan en wil ons uit elke krisis red. Al wat ons moet doen, is om waarlik berou vir ons sondes of ongehoorsaamheid te hê, om Jesus Christus ons Verlosser te maak en die Heilige Gees as ons navigasiestelsel aan te stel om te verseker dat ons nie die regte koers verlaat nie. As ons dit doen, sal jy beleef hoe God ons uit die ysige water tot in sy reddingsboot tel en hoe Hy aan ons die wonderlike toekoms wys wat Hy reeds vir ons beplan het. Moet dus nie wag totdat jy die rotse tref nie. Neem vandag daardie besluit. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat daar by U tweede kanse is. Lei my in hierdie jaar om nie weens ongehoorsaamheid of selfsug u perfekte pad vir my lewe te verlaat nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.