Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 16 Januarie 2012

Tema vir die maand: ’n Nuwe begin…

DAG 6: ’N NUWE BEGIN... MET GOD SE BELOFTES IN JOU HART

Deur Benescke Janse van Rensburg

Na Dag 4 se dagstukkie waarin ek oor die belangrikheid gepraat het om aan God se beloftes vas te hou, het verskeie lesers my gevra hoe op aarde mens God se beloftes vir jou spesifieke situasie kan identifiseer.

Voordat ons by die beloftes kom, is dit belangrik om te onthou wat in 2 Timoteus 3:16-17 geskryf staan: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

Die Woord van God is lewend en kragtig. Dit is vir ons ’n flits vir ons lewenspad en ons ammunisie waarmee ons die vyand beveg – Jesus het immers God se Woord gebruik om die vyand in die woestyn te weerstaan. Hier is vir jou ’n paar praktiese voorbeelde hoe jy God se beloftes deel van jou lewe kan maak:

ALLEENHEID: As die vyand jou probeer oortuig dat niemand oor jou omgee nie, herinner hom aan die woorde in Hebreërs 13:5: “God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’”

BEKOMMERNIS: As die vyand jou met negatiewe gedagtes oorval wat jou laat stres, herinner hom aan die woorde in Filippense 4:6-7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

RUSIE MET ’n GELIEFDE: As die vyand jou vertel dat jou huwelik op die rotse is of dat ’n verhouding met ’n geliefde vir ewig verby is, herinner hom aan God se woorde in Esegiël 36:26: “Ek sal julle 'n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.” Geen hart is vir God te hard om om te keer nie!

GENESING: As die dokters vir jou ’n slegte verslag gee of die vyand jou laat glo dat jy nooit genesing sal ontvang nie, herinner hom aan die woorde in Jesaja 53:5: “… deur sý (Jesus se) wonde het daar vir ons genesing gekom.”

WYSHEID: As die vyand jou laat twyfel of jy die regte besluit sal neem in jou werksituasie of ’n situasie wat jou gesin raak, herinner hom aan die woorde in Jakobus 1:5: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”

Gaan telkens terug na God se Woord. Skryf sy beloftes vir jou situasie neer. Wanneer jy dan weer mismoedig voel of negatiewe gedagtes jou wil oorweldig, kyk gerus weer daarna. Só beveg jy jou twyfel terwyl jy jou geloof in God versterk. Onthou, God verander nooit nie. Sterkte!

Vader God, dankie dat u Woord vas staan. Help my om dit in my hart te bêre sodat u Heilige Gees my daaraan kan kom herinner as ek mismoedig voel. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

**Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper en skrywer van die boeke, Ontdek God in die stories van mense en ook Wysheid, oordenkings uit Spreuke.

Previous article: Vers n dag - 17 Januarie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 13 Januarie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.