Sade vol krag - 8 Maart 2022
Xanthe Hancox
Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou: “Die koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaadjiewat iemand geneem en in sy tuin geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar wanneer dit gegroei het, is dit die grootste van al die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls van die hemel in sy takke kom nesmaak. Matteus 13:31-32, 2020-vertaling
Ek hou daarvan om mostertsaadjies by te voeg wanneer ek kerrie maak. Hulle is baie klein en spat die wêreld vol as 'n mens die botteltjie omstamp, maar wanneer dit by geur en tekstuur in 'n gereg kom, is dit 'n ander storie. Vandag se gelykenis het nou wel nie met die voordeel van mostertsaadjies in kosmaak te doen nie, maar ek dink tog die sentiment is baie dieselfde – hoe iets so klein so 'n groot impak kan hê.
Alhoewel die mostertsaad die kleinste saadjie was waarvan Jesus se gehoor geweet het, was die vraag waartoe is dit in staat? Jesus sê: "… maar wanneer dit gegroei het, is dit die grootste van al die tuinplante en word dit 'n boom …"
Die koninkryk van die hemele is soos 'n mostertsaad. Jesus se koninkryk mag dalk klein en onbelangrik lyk, maar dit het die potensiaal om groot te word en oral oor te versprei.
En ons dink miskien dat ons pogings om die koninkryk te laat groei onbeduidend is, maar ons moet nie die potensiaal van God se krag miskyk nie. Ons word geroep om oor die klein saadjie, oor elke nuwe bekeerling, elke blik wat ons op die koninkryk van die hemele kry, asook oor die potensiaal van God se krag, in verwondering te staan.
Onthou, God het die loop van die geskiedenis verander met slegs 'n paar gelowiges wat die goeie nuus van Jesus met ander gedeel het – mense wat dit op hulle beurt weer verder en verder versprei het. Aan God die eer!
Gebed: Here, ons kyk gretig uit na meer tekens dat u koninkryk oral groei. Gee ons oë om te sien en harte gevul met blydskap! Amen
Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.