Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Goeie vis en slegte onkruid - 11 Maart 2022

Xanthe Hancox 

“Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met 'n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.” Matteus 13:47-50, 1983-vertaling
 
Ons het hierdie week gekyk na van die gelykenisse wat oor die koninkryk handel. Gelykenisse wat handel oor die waarde van die koninkryk van die hemele, oor die prys wat Jesus betaal het sodat ons sy koninkryk kan ingaan, en ook oor God se eindelose geduld en genade. Maar daar is ander koninkrykbeginsels wat God se oordeel oor sonde en boosheid aanspreek wat ons nie kan ignoreer nie.
 
Jesus se gelykenisse sluit stories in oor die Here wat by die laaste oordeel onkruid van die koring sal skei en ook oor 'n visnet waar eetbare vis geskei sal word vanvan dié wat onbruikbaar is. In die koninkryk sal daar skeiding wees en die Here is die Een in beheer van die oordeel.
 
Vis weet nie of hulle gehou of weggegooi gaan word nie. Maar Jesus ken sy vis. Hy kan deur ons fasades sien, Hy ken ons harte, Hy weet of ons op Hom vertrou of nie. En anders as die geval met vis, kan ons die versekering hê dat ons nie wanneer die finale oordeelsdag aanbreek, weggegooi gaan word nie. (Lees Jesus se woorde aan Marta in Johannes 11:25-26 as jy vandag na daardie versekering verlang.)
 
Goeie en onbruikbare vis, koring en onkruid – Jesus herinner ons daaraan dat Hy kan sien wat in ons harte is. Hy herinner ons ook aan die koms van 'n finale oordeelsdag wanneer goed en kwaad vir ewig van mekaar geskei sal word.
 
Die komende oordeel leer ons ook om selfsugtige plesier eenkant te sit en te kies om te doen wat reg is in God se oë en wat ewigheidswaarde het. Deur God se genade en krag kan ons dit doen.
 
Gebed: Hemelse Vader, lei ons om daagliks vir U te leef. Gee dat ons lewens van toegewydheid aan Jesus Christus, ons getroue Verlosser, sal getuig. Amen
 
Previous article: Sout en lig - 14 Maart 2022 Prev Next article: Weggesteekte skatte - 10 Maart 2022 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.