Louise Gevers 

Maar Hy sê vir hulle: “Waarom is julle ontsteld, en waarom kom daar twyfel in julle harte op? Lukas 24:38, 2020-vertaling
 
Van geboorte word ons blootgestel aan bekommernisse, maar ons is dan nog te jonk om daarvan bewus te wees of van die potensiaal wat dit het om ons te beïnvloed. Ons bewuswording van angs neem toe wanneer ons bewus word van ons beperkings. Die kinderboekskrywer, dr Seuss, skryf daaroor in 'n ligte trant sodat kinders kan leer hoe om al die bekommernisse te hanteer en dankbaar te wees dat hulle hulle eie probleme het en nie die van ander mense nie: “It’s a troublesome world. All the people who’re in it are troubled with troubles almost every minute. You ought to be thankful, a whole heaping lot, for the places and people you’re lucky you’re not.”
 
Lank voor dr Seuss, het Jesus reeds oor 'n tyd toe swaarkry vir Hom voorgelê het en Hy geweet het sy dissipels oor die wêreld verstrooi sou word, vir hulle gesê: "Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin. (Johannes 16:33) Hy wou verseker dat wanneer die swaarkry kom, hulle nie verbaas sou wees nie en staande sou bly!
 
Hy wou hê dat hulle moes weet hoe groot die probleme ook al was, hulle in Hom vrede kon vind, dat hulle dapper moes wees want Hy het reeds die wêreld oorwin. Hy was hulle kampvegter en Hy sou hulle nooit verlaat nie. Sy vrede is baie groter as die slegste ondervinding wat hulle in die wêreld kon ervaar. Hulle sou nooit swaarkry alleen hoef te hanteer as hulle op Hom vertrou nie – Hy sou hulle na die oorwinning dra.
 
Toe Jesus vandag se vraag gevra het, was die dissipels "verskrik en beangs, [want] hulle [het] gedink dat hulle 'n gees sien." (Lukas 24:37) Hy het aan hulle verskyn daar waar hulle saam was, besig om sy opstanding te bespreek nadat twee dissipels Hom op die pad na Emmaus ontmoet het. Dit is duidelik dat bekommernis en twyfel met mekaar verband hou en rasionele denke verhoed wat 'n mens in 'n swak toestand laat, nie in staat om met selfvertroue te reageer nie.
 
Die dissipels was reeds ontsteld en onseker – en Jesus in sy opgestane liggaam het nie soos voorheen gelyk nie. Hulle twyfel in Hom het hulle angs laat toeneem, maar Jesus het hulle gerusgestel en geduldig aan hulle bewys wie Hy was deur hulle toe te laat om sy hande en voete aan te raak en te sien hoe Hy eet.
 
Ons is ook dikwels ontsteld en onseker en as gevolg van ons eie vrese erken ons nie dat Jesus by ons is nie. Jesus bewys egter dieselfde genade en liefde aan elkeen wat op Hom vertrou, waar ons ons ook al op die lewenspad bevind. Sy woorde aan ons is: “Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My." (Johannes 14:1) en "Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee." (Matteus 11:28)
 
Sal jy na Jesus toe gaan wanneer jy ontsteld is?
 
Gebed: Here Jesus, U is die "weg, en die waarheid en die lewe". Neem asseblief al my twyfel weg, help my om op U te vertrou en skenk my u vrede. Amen