Louise Gevers 

Die man het vir Jakob gesê: “Los my, want die dag breek.” Jakob het geantwoord: “Ek sal jou net los as jy my seën.” Toe vra die man: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “Jakob.” Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense 'n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.” Genesis 32:26-28
 
Hoe voel jy as jy die hele nag met iets geworstel het?
 
Jakob moes fisies en emosioneel uitgeput gewees het. So baie jare het hy met homself geworstel oor die keuses wat hy gemaak het; hulle het hom van sy familie en van God se roeping vervreem. Terselfdertyd moes hy ook baie opgewonde gewees het – geestelik lewendig – want hy het volhard met God en hy het gewen.
 
Net die vorige dag het hy 'n oorlewingstrategie uitgewerk, maar hy het ook gebid: “Here, God van my voorvader Abraham, God van my vader Isak, …" (Genesis 32:9) Hy het die Here gedank vir alles wat hy het en Hom gevra om hom, sy vroue en sy 11 kinders te seën en te bewaar. Hy het die Here ook herinner aan sy belofte: "Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sand van die see, wat nie getel kan word nie.” (Genesis 32:12)
 
Jakob het "baie bang geword en angs het hom oorval" (Genesis 32:7) toe hy uitvind dat sy tweelingbroer van wie hy so baie jare gelede weggevlug het, vergesel van 400 mans op pad was om hom te ontmoet. Hy het geweet dat Esau, nadat hy (Jakob) sy geboortereg van hom gesteel het – iets wat Esau se lewe heeltemal verander het – alle rede gehad het om steeds woedend vir hom te wees.
 
Tog het hierdie dilemma die katalisator geword wat uiteindelik Jakob se hart verander het, hom nuwe hoop en 'n nuwe naam gegee het. God het sy naam Jakob wat "bedrieër" beteken, verander na Israel, "een wat met God 'n stryd voer".
 
Wat ons uit Jakob se ondervinding kan leer is dat hy 'n ware ontmoeting met God gehad het. God het hom gekonfronteer met wie hy was deur hom sy naam te vra. Jakob het volhard in sy stryd totdat hy sy menslike pogings gestaak en uiteindelik die oorwinning behaal het. God het Jakob se opregte begeerte en vasberadenheid om hom met God te versoen raak gesien en het hom verander. "Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg." (Jeremia 29:13)
 
Ons het ook so 'n ondervinding in ons lewens nodig. Die Here is by ons en Hy inspireer ons om nooit moed op te gee nie, maar Hy toets dikwels ons standvastigheid deur beproewings. 'n Ontmoeting met God stel ons in staat om wanneer ons nie aan Hom onderdanig is nie, ons ware self te konfronteer en, gestroop van alles, met Hom te worstel en te weier om moed op te gee totdat ons verseker is van sy seën, en dan bly te wees oor hierdie nuwe belewenis van Hom.
 
Het jy, soos Jakob, 'n nuwe naam?
 
Gebed: Here, slegs U kan ons stryd kalmeer en ons van binne verander. Gee dat ons deur Jesus Christus, ons Here, aan U sal vashou. Amen