Louise Gevers
 
Hy self [Jesus] was egter agter in die boot op die kussing aan die slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?” Markus 4:38, 2020-vertaling
 
Hierdie vraag tydens 'n storm waarin Jesus en sy dissipels hulle bevind, bewys nie net op 'n baie aangrypende manier dat Jesus se verhouding met sy dissipels een was van Iemand wat volkome mens en ook volkome God is nie, maar dit beklemtoon ook die aard van sy verhouding met sy dissipels vandag.
 
Hierdie rustige prentjie van Jesus wat in vrede op 'n kussing lê en slaap terwyl 'n storm woed en die golwe oor die boot slaan, het in die vroeë deel van sy bediening plaasgevind, en is op sigself 'n les in geloof. Jesus is duidelik uitgeput nadat Hy die skares bedien het en rus ongestoord om sy kragte te herwin.
 
Maar die angsbevange dissipels by Hom, maak Hom wakker met beskuldigende woorde: "Meester,gee U nie om dat ons vergaan nie?" Nadat hulle al die wonderwerke gesien het wat Hy in hulle teenwoordigheid gedoen het, glo hulle dat Hy ook iets vir hulle kan en sal doen – as Hy tog net wil wakker word!
 
Jesus praat met hulle beide as God en vriend.
 
Sy reaksie is 'n mooi voorbeeld van onselfsugtigheid sonder klagtes; Hy huiwer nie om in hulle behoeftes te voorsien nie en beveel die wind om stil te word en die golwe om te bedaar. Die dissipels is met ontsag vervul oor hulle Meester se krag oor die natuur.
 
Ons almal beleef storms in ons lewe, maar as ons, soos die dissipels, 'n verhouding met Jesus het wanneer ons deur die storms gaan, is Hy reg by ons. Augustinus het gesê dat: "wanneer ons toelaat dat ons aan versoeking toegee, slaap Christus in ons. Ons vergeet Christus in sulke tye. Laat ons Hom onthou. Laat ons Hom wakker maak. Hy sal praat. Hy sal die storm in die siel bestraf en daar sal groot kalmte heers." (vry vertaling)
 
Soms mag ons so versteurd en behep wees met die storm wat ons beleef, dat ons vergeet om Jesus se hulp te vra. Soms probeer ons doelbewus om die storm op ons eie te deurstaan. Dit veroorsaak onnodige lyding en wanhoop. Al wat ons moet doen is om Hom te vra om ons te red, want Hy gee om.
 
Jesus verstaan ons stryd want Hy was by sy dissipels gedurende hulle stryd in 'n tyd toe Hy met hulle swakheid geïdentifiseer het. Hy help ons om, net soos Hy gedoen het, in gehoorsaamheid aan sy Vader te volhard.
 
"Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” (Markus 14:38) Jesus het die stryd oorwin en deur sy genade is Hy in alle omstandighede, of ons dit nou verdien of nie, steeds daar vir diegene wat in Hom glo.
 
Gebed: Here Jesus, dankie dat U [Uself] daarvan leeggemaak, deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem aan mense gelyk te word." (Filippense 2:7) Dankie dat U ons verstaan, "want ons het nie 'n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het." (Hebreërs 4:15) Ek weet ek is swak en sondig. Help my om getrou te bid en u voorbeeld te volg. Tot eer van u Naam. Amen<!--[if gte mso 9]>