Louise Gevers 

Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie? Markus 14:37, 1983-vertaling
 
Daar behoort 'n soortgelyke uitdrukking oor slaap te wees as wat daar oor geld is: slaap is goed vir ons, maar kan ook soms ons baas wees. Ons hou daarvan om na 'n lang, uitputtende dag tussen die lakens in te glip en tot die volgende oggend ons oë toe te maak en verfris wakker te word. Maar wanneer ons laataand huis toe bestuur, of in die voorste bank in die kerk sit, en wawyd wakker moet wees, is dit soms 'n marteling om ons swaar ooglede oop te hou.
 
Petrus ondervind presies hierdie soort marteling nadat hy die Paasmaaltyd saam met Jesus en die ander dissipels geniet het. Dit was 'n intense ondervinding toe Jesus die Nagmaal ingestel en aangekondig het dat een van hulle Hom sou verraai. Petrus was moeg geprobeer om dit alles te verstaan en uitgeput deur al sy pogings om Jesus te oortuig dat hy Hom nooit sou verloën nie, laat staan nog drie keer. (Markus14:31)
 
Jesus is besig om in die tuin te bid en sy sweet het letterlik soos bloeddruppels op die grond geval (Lukas 22:44). Hy vra toe vir Petrus: “Simon, slaap jy?" Petrus stry 'n verlore stryd en Jesus weet dit. Petrus was so vol selfvertroue …
 
Jesus is aan die einde van sy aardse bediening en dié nag is die skoen aan die ander voet. Jesus benodig die ondersteuning van sy vriende; Hy sê: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe." (Markus 14:34, 2020-vertaling) Dit sou die moeilikste nag van sy hele lewe op aarde wees, die nag voor die kruisiging, donkerte is besig om Hom te oorval. Hy staar 'n vriend se verraad en 'n onregverdige verhoor in die gesig. Hy het sy vriende nodig om saam met Hom te waak en bid terwyl Hy daar in die tuin sy hart voor sy Vader uitstort.
 
Maar hulle kan nie aan sy versoek gehoor gee nie, selfs al is dit die oomblik wat hulle ook geestelik moet voorberei vir die nag en vir dit wat op hulle wag. “Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. … Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”(Markus 14:41-42)
 
Ons weet nie wat Petrus presies gedink het van die nagmerrie wat gevolg het nie, maar hy het Jesus drie keer verloën, en toe die haan die tweede keer kraai het hy in trane uitgebars. (Markus 14:72)
 
Hoe sou sake gestaan het as ons in Petrus se skoene was? Waar sou ons die krag vandaan gekry het om te waak? Slegs deur volkome te fokus op God se doel vir ons, getrou te wees in gebed, en in alle nederigheid aan Hom verantwoordbaar te wees, sal ons in staat wees om sy wil vir ons te volbring.
 
Waak en bid ons of vra Jesus dieselfde vrae aan ons?
 
Gebed: Here Jesus, deur wie ons lewe, beweeg en bestaan, (Handelinge 17:28) help ons asseblief om getrou te waak en bid. Amen