Louise Gevers 

“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” (Matteus 16:15, 1983-vertaling)
 
Hierdie vraag wat Jesus aan sy dissipels stel is nie net belangrik vir sy bediening nie, maar is van ewigheidsbelang vir elkeen van hulle persoonlik. “Maar julle,” … “wie, sê julle, is Ek?”
 
Wie ons as individue werklik is en hoe ander ons sien, is belangrik vir ons. Ons wil ernstig opgeneem word en weet dat diegene met wie ons interaksie het, veral diegene naaste aan ons, ons sien vir wie ons werklik is. Hoeveel te meer was dit nie van toepassing op Jesus in sy omstandighede nie.
 
Jesus het na die wêreld gekom met 'n goddelike doel en dit was vir Hom van die uiterste belang om te weet wat sy dissipels wat Hy elkeen persoonlik geroep het – wat elke dag by Hom was wanneer Hy mense onderrig en bedien het – oor Hom geglo het. Dit was hulle wat sy sending moes voortsit wanneer Hy na sy Vader terugkeer.
 
Vir Jesus was hierdie antwoord belangriker as die antwoord op sy vorige vraag wat Hy as inleiding gebruik het: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” (Matteus 16:13) Hy sou die verskeidenheid antwoorde verwag het wat die dissipels oor die nuuskierige buitestanders gegee het: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” (Matteus 16:14)
 
Soos vandag, het baie mense toe ook Jesus nie erken vir wie Hy werklik is nie. Hulle het Hom gesien as Iemand met 'n kragtige geestelike boodskap – maar nie as God nie. In hierdie post-Christelike era, beskou baie belangrike godsdienste Jesus as 'n profeet met groot morele leerstellinge wat hulle aanhang, maar ander sonder enige geestelike oortuigings, beskou sy leerstellinge as dwalings of verwerp Hom of enige konsep van God heeltemal. Vir die gelowige Christen is Hy egter God want "alles het deur Hom tot stand gekom: … [Hy is] die lig [wat] skyn in die duisternis … "(Johannes 1:3,5)
 
Dit is Petrus wat bely: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (Matteus 16:16). Hiermee reageer hy nie net op die woorde waarvan Jesus self getuig het nie – “Ek is die brood wat lewe gee", (Johannes 6:35) "Ek is die lig vir die wêreld", (Johannes 8:12) "Ek is die ingang vir die skape", (Johannes 10:7) "Ek is die goeie herder" (Johannes 10:11) "Ek is die opstanding en die lewe", (Johannes 11:25) "Ek is die weg en die waarheid en die lewe" (Johannes 14:6) – maar ook op die Jesus wat hy in aksie gesien en in wie hy, soos Marta nog voordat Jesus Lasarus opgewek het, (Johannes 11:27) volkome glo.
 
Jesus bevestig dat God alleen dit aan Petrus geopenbaar het, en sê vir hom: "Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou … Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee …" (Matteus 16:18-19)
 
Jesus vra vir elkeen van ons: "Maar wat sê jy? Wie sê jy is Ek?"
 
Ons antwoord op Jesus se vraag is vir Hom net so belangrik as die van Petrus of Maria. Hy het na hierdie wêreld gekom vir elkeen van ons, wie ons ook al is. Hy het gekom om ons vry te spreek "[geregverdig] deur sy bloed" (Romeine 5:9) en Hy stel ons in staat om "ons [te] verheug … in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God". (Romeine 5:2)
 
Ken jy Jesus as 'n voorbeeldige morele leraar, of as die Seun van God wat ons liefhet en sy lewe vir jou en vir my opgeoffer het?
 
Gebed: Hemelse Vader, gee dat "[u] Gees aan [ons] wysheid gee en Hom so aan [ons] openbaar dat [ons] Hom werklik kan ken. Ek bid dat Hy [ons] geestesoë so verhelder dat [ons] kan weet watter hoop sy roeping inhou … (Efesiërs 1:17-18) Amen