Louise Gevers 

Dag en nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle vir my: “En waar is jou God nou?”
 
Klein Audie se uitgelatenheid toe sy haar Oupa op sy verjaarsdag besoek en met oorgawe vir hom gesing het, het gou begin wegkwyn en sy het moeg voorgekom. Haar speelgoed en selfs spesiale lekkernye het hulle aantrekkingskrag verloor en gou het sy onder 'n kombersie stil gesit, heeltemal in teenstelling met dit waarna sy so gretig uitgesien het. Toe sy my vra of ek enige "medisyne vir kinders het" is al ons vermoedens bevestig.
 
Hierdie eenvoudige voorbeeld van die negatiewe impak van siekte op 'n kind, het my laat dink aan die psalmdigter in ballingskap se veel meer komplekse scenario wat hom neerslagtig en moedeloos gelaat het in 'n ernstige situasie wat nie gou sou verander nie. Anders as Audie by 'n verjaarsdagpartytjie, was hy in ballingskap ver van Jerusalem en die tempel waar hy so graag God aanbid het. Hy verlang daarna om God weer daar te aanbid, terug in sy eie land, tussen sy eie mense.
 
Sy verlange na God is so groot dat hy dit vergelyk met die dors van 'n wildsbok wat smag na waterstrome. (Psalm 42:2) Sy siel verlang om tyd in God se teenwoordigheid deur te bring, weg van die voortdurende teistering van spottende mans wat hom uittart omdat God afwesig is in sy tyd van nood. Hy is afhanlik van God vir lewe soos die wildsbok smag na water, en hy voel afgesny.
 
Herinneringe aan hoe "[hy] opgetrek het na die woonplek van God, voor 'n skare uit na sy huis toe geloop het met gejuig en lofsang – 'n skare wat feesvier" (Psalm 42:5), verhoog egter sy angs en maak hom meer bewus van die skeiding van sy mense.
 
Maar dan berispe hy homself en hy lê 'n belydenis van sy geloof af wat bo die wolk van depressie uitstyg: "Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing. Hy is my helper en my God!" (Psalm 42:6-7a)
 
Wanneer hy probeer verstaan waarom hy is waar hy is, verval hy weer in wanhoop, maar dan onthou hy weer wie hy vertrou: "Ek wil vir God sê: “My Rots, waarom het U my vergeet? Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?” (Psalm 42:10) Maar weer betig hy homself: "Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing." (Psalm 42:12)
 
Kan ons ons met die psalmdigter se ondervinding vereenselwig? Ons is ook in ballingskap, ver van ons hemelse tuiste terwyl ons hier op aarde woon. Ons word ook voortdurend aangeval deur "[ons] vyand, die duiwel, [wat] rond [loop] soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind." (1 Petrus 5:8) Hy tart ons met "Waar is jou God?" – deur hierdie subtiele leuen probeer hy om ons oral waar hy kan van ons vreugde te beroof. Hy was veral baie aktief gedurende die Covid-periode en die wêreld dra die gevolge.
 
Maar ongeag hoe ons voel, deur ons na God ons Rots te wend en na Hom te verlang, gee aan ons hoop. Hy dra ons altyd deur.
 
Gebed: Vader, regdeur ons lewe op aarde is ons hoop in U en u onfeilbare liefde. Help ons om die aanvalle van die vyand te weerstaan deur die krag van Jesus se Naam. Amen