Fanie Richter 

Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” Johannes 4:13-14, 1983-vertaling
 
Daar lê dieper betekenis in Jesus se woorde, “Wie van die water drink”. Want hierdie gawe wat God gee (Johannes 4:10) oorbrug ook die skeiding van volke en godsdienste. Dit word duidelik wanneer Hy sê, “Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid” (Johannes 4:22), en in verse 34 en 35 – dat Hy gestuur is om sy Vader se wil te doen en sy werk te voltooi en dan ook verwys na die lande wat ryp is vir die oes. As die Samaritane dan in Johannes 4:42 sê, “Ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is”, word dit bevestig dat “hierdie water” nie net vir die Jode bedoel is nie, maar ook vir die Samaritane – vir almal.
 
Wie hierdie water drink, wat die ewige lewe gee, sal dit as ’n standhoudende opborrelende fontein in jou gees beleef (Johannes 4:14), wat deur die werk van die Heilige Gees ook soos “strome lewende water uit jou binneste” na ander sal oorvloei. (Johannes 7:38-39)
 
Hierdie belofte en seënryke gevolge van sy Gees is reeds in die Ou Testament aangekondig: “Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droëgrond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge.” (Jesaja 44:3; vgl. Jesaja 32:15; 58:11-12 en Joël 2:28)
 
God vra reaksie van elkeen wat geestelik dors is. (vgl. Jesaja 55:1) Daarop gee Hy oneindig meer terug, wat kan oorvloei na almal wat bereid is om van “hierdie water” te drink.
 
Gebed: Here Jesus Christus, baie dankie vir u lewende water. Laat dit ook deur en uit my binneste voortvloei. Amen