Fanie Richter 

“God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.” Johannes 4:24, 1983-vertaling
 
“... want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.”
 
Ons aanbid baie keer so maklik – maar soms verkeerd.
 
In reaksie op die Samaritaanse vrou se verwysing na die plekke waar hulle “moet” aanbid (Johannes 4:20), wil Jesus vir haar tuisbring dat dit nie om reëls gaan nie, maar oor die ‘hoe’. Hy kom bied vir haar (en eintlik vir ons almal) ’n totale en ewigdurende vernuwing deur die standhoudende “lewende water” (Johannes 4:14) waarmee die Heilige Gees ons voed. (Johannes 7:38-39)
 
Dit word nog duideliker wanneer Jesus in Johannes 14:6 sê, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”, en dat Hy vir ons ’n “ander Voorspraak stuur, naamlik die Gees van die waarheid.” (Johannes 14:16-17) Hy sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Johannes 14:26) Die Heilige Gees is dus verbonde aan die waarheid en die lewe soos God dit bedoel.
 
Hy laat God se Lig op ons werklikheid val. Met ’n gehoorsame gees (wat ook deel van aanbidding is), gebaseer op die waarheid volgens die wil en doel van God, sal ons gelei word om aanbiddend te lewe en werk, midde-in blydskap en lyding, tekortkoming en ontwikkeling, wanneer ons onderskeiding, wysheid en liefde benodig en dit moet aanwend. Deur sy Gees aanbid ons God dus ook met sodanige lewe en werk.
 
“...want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.” (Vgl. ook 1 Petrus 4:6b)
 
Gebed: Hemelse Vader, laat ek aanbiddend lewe en werk volgens die waarheid en doel wat u Gees vir my bepaal. Amen