Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God kan en wil deur jou 'n verskil maak - 29 Augustus 2022

Fanie Richter 

Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here, ek kan nie ...” Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens ’n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help... en jou leer...” Eksodus 4:10-12, 1983-vertaling
 
God ken ons reeds van voor ons geboorte en het ’n lewensdoel met elkeen van ons. Hy weet wat die kwaliteite en potensiaal is wat Hy in jou geskep het, en wat miskien nog latent lê en wag op jou gehoorsaamheid om deur sy Gees bekragtig, beheer en begelei te word.
 
Dalk voel jy nog nie gereed nie. Maar so kon hy vir Moses, Gideon, Jesaja, sy dissipels, Paulus en andere onverwags en ten spyte van hulle tekortkominge roep en in staat stel om saam met Hom te werk.
 
Daarvoor kyk Hy egter na jou hart vir jou gesindheid en wag vir jou oorgawe en voortdurende gehoorsaamheid aan Hom.
 
Vra God en laat Hom toe om deur sy Gees ’n verskil te maak in jou gees, met raad en dieper insig in sy wysheid, krag en liefde. Wanneer jy Hom daarin gehoorsaam, vernuwe Hy jou denke en gesindheid en rus Hy jou toe en bekragtig jou vir jou werk sodat jy Godsvrug kan dra. Soos bogenoemdes dit waarvoor hulleself nie kans gesien het nie, saam met Hom kon doen, kan jy ook.
 
Dan skep Hy transformasie deur jou – hervorming (Jeremia 18:1-6) – soos dit bedoel is om te wees.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U met voorkennis na my kyk en my wil vernuwe en toerus om saam met U tot seën in die wêreld te dien. Help my daartoe en laat U daardeur verheerlik word. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Previous article: Lewe en dien in God se koninkryk (1) - 30 Augustus 2022 Prev Next article: Hoeveel gebede word deur jou beantwoord? - 26 Augustus 2022 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.