Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Lewe en dien in sy koninkryk (2) - 31 Augustus 2022

Fanie Richter 

Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.” Matteus 13:31-32, 1983-vertaling
 
Wat is die mosterdsaad-effek in jou geloof en lewe?
 
Jesus leer sy volgelinge om lewe in die regte perspektief te sien. Hy wil hê dat ons sal verstaan (i) hoe Hy die lewe bedoel, en (ii) dat ons dié doel sal bereik en dit geniet. Hy sê as’t ware: “My koninkryk is soos iets klein wat Ek geplant het en weens My krag groei en lewensruimte asook ’n leefwyse gee – sodat dit tot seën kan wees vir almal.”
 
Ongelukkig dink ons baiekeer – wat ék kan doen, kan tog nie veel beteken nie. Maar Jesus se woorde beteken ook: “Wat vir julle onmoontlik lyk, maak Ek moontlik – deur dit wat Ek in julle geplant het en wil laat groei en ontwikkel.”
 
Watter kundigheid en potensiaal is in jou geplant – vir watter koninkryksgeleenthede? Moenie dat twyfel jou geloof en visie beperk nie. Moenie jouself te gering skat nie. Of skat jy dalk God se vermoë met jou te gering? Jy behóórt dinge wat Hy vir en deur jou bedoel het, suksesvol en betekenisvol te vervul, saam met God!
 
Die Here se werk in en deur jou is ’n proses met dinamika – groeikrag en beweging onder sy heerskappy – transformasie – sodat mense in die seën van die Koninkryk kan deel. Die Koning se bedoeling en beplanning is goed.
 
Die punt is: God roep en gebruik gewone mense. God skep dinamika soos met ’n klein mosterdsaadjie, ook in en deur jóú.
 
Gebed: Hemelse Vader, beheer asseblief my lewe en gee vir my insig en skep en bereik deur my waarna U verlang. En dankie dat dit vir my en ander goed is. Amen.
Previous article: Die koninkryk van God is hier - 1 September 2022 Prev Next article: Lewe en dien in God se koninkryk (1) - 30 Augustus 2022 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.