Vers n dag - 11 Mei 2012
Gee om vir jou arm familielede
Neville Turley
Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens. Spreuke 16:24
Ons hoor oral dat ons deesdae in 'n 'global village' woon. Die wêreld het gekrimp. Tans huisves Suid-Afrika baie van die mensdom se "arm familielede". Mans en vroue wat moes vlug van onregverdige regerings, van oorloggeteisterde gebiede om hier 'n veiliger heenkome onder die Suid-Afrikaanse son te kom soek.
Almal het 'n behoefte aan welwillendheid en bystand. Ons moet probeer help waar ons kan, want xenofobie het geen plek in die Christelike karakter nie. Koning Jesus sal eendag sê: "Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie." Matteus 25:45
Maar kom ons bring dit so 'n bietjie nader aan die huis. Een ding wat die meeste families in gemeen het, is arm familielede. Nie alle familielede is ewe vooruitstrewend nie. Sommige familielede is arm omdat hulle miskien aan die begin van hulle werkslewe verkeerde keuses gemaak het en nie in staat is om die gevolge te oorkom nie. Ander weer is arm as gevolg van omstandighede buite hulle beheer.
'n Man het eenkeer vir my vertel van sy onsteltenis toe hy gehoor het dat sy een broer alles wat hy gehad het opgegee het en 'n boemelaar geword het. 'n Paar maande later was hy met sy kinders en van hulle virende onderweg toe hy sy broer langs die pad sien stap. Ten einde sy kinders die verleentheid te spaar, het hy weggekyk en so vinnig moontlik verby sy broer gery.
Families wat eens 'n hegte eenheid was, kan soms uitmekaar spat. Die testament van 'n ouer, 'n oupa en ouma, oom of tante, kan soms bitterheid en vervreemding tot gevolg hê. Dikwels dryf kinders van een gesin weg van mekaar en word vreemdelinge vir mekaar.
Soms is dit met iets van 'n opgewondenheid dat jy 'n vreemdeling in jou huis verwelkom, want miskien sonder dat jy dit weet, huisves jy engele as gaste. Daar is egter nie groot opgewondeheid wanneer arm familielede aan die deur klop nie want ons weet hulle is definitief nie engele nie. Heel dikwels as hulle sonder uitnodiging opdaag, is hulle 'n verleentheid.
Die ryk man in een van Jesus se gelykenisse het ongetwyfeld ook so gevoel toe Lasarus voor sy deur gelê het "in die hoop dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry". Lukas 16:20 Dit is egter die eindresultaat wat saak maak. Lasarus het hemel toe gegaan en die ryk man hel toe. In sy lewe het Lasarus nie baie gevra nie, net welwillendheid en oorskiet van die ryk man se tafel.
Miskien is daar iemand wat op 'n stadium naby aan jou was en wat miskien verlang om van jou te hoor. Die enigste manier om uit te vind is om kontak te maak. Doen dit nou want môre mag dit te laat wees.
Gebed: Hemelse Vader, skenk aan ons die genade om met deernis na ander te kan uitreik. Gee dat ons deur ons aksies die groot liefde wat ons Verlosser vir ons het, sal weerspieël. Amen.