Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 14 Mei 2012

Jesus bring vreugde en blydskap

Neville Turley

Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer. Psalms 30:6 (b)

Jesus was dood, fisies dood. Josef van Arimatea het vir Pilatus die liggaam van Jesus gevra. Nadat Pilatus een van sy offisiere geraadpleeg het, het hy beveel dat die liggaam vir Josef gegee moet word. Josef het die liggaam in 'n skoon stuk linne toegedraai en Hom neergelê in 'n sy eie graf wat in die rots uitgekap was. Hy het 'n groot klip voor die ingang van die graf gerol.

Drie dae later was daar 'n geweldige aardbewing. 'n Engel van die Here het van die hemel af gekom, en die klip weggerol. Van skrik vir hom het die wagte so gebewe en soos dooies geword. (Matteus 28:4)

Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, … Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ (Matteus 28:5-7)

Die Bybel sê die vroue het toe haastig van die graf af gehardloop om die dissipels te gaan vertel ‑ bang maar baie bly.

Die woordeboek definieer die woord vreugde as 'n gevoel van groot blydskap en geluk.

Die geboorte van Jesus het groot blydskap in die wêreld gebring, en so ook sy fisiese opstanding.  Jesus se liefde en opoffering het dit moontlik gemaak vir die mens om hom met God te versoen.  Christenskap is voorwaar 'n godsdiens vol vreugde.

Jesus self gee vir ons die formule vir 'n lewe vol vreugde en blydskap:

“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. (Johannes 15:9-11)

Indien jy ware, volkome blydskap in in jou lewe wil hê, moet jy nader aan Jesus, jou Verlosser, leef.

Gebed: Hemelse Vader, help ons om, deur u Gees, Jesus na te volg sodat ons tot u eer mag lewe. In die Naam van Jesus vra ons dit. Amen.

Previous article: Vers n dag - 15 Mei 2012 Prev Next article: Vers n dag - 11 Mei 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.