Om bossies uit te trek - 29 April 2025
Charlea Grey
Daar gebeur partymaal dinge wat iemand se geloof toets en wat hom verkeerde dinge wil laat doen. Wanneer so iemand aanhou glo, dan is hy 'n gelukkige mens. Hoekom? Want wanneer God tevrede is met so 'n mens, dan sal God vir hom 'n prys gee, God sal vir hom die ewige lewe gee. God het dit belowe vir die mense wat lief is vir Hom. Jakobus 1:12, Bybel vir almal
So paar maande gelede het ons in 'n nuwe huis ingetrek. Dit was 'n baie opwindende tyd. Maar kom ek wees eerlik, dit was ook nogal ontnugterend. Om skielik in 'n plek te bly waar jy self moet tuinmaak en daar nie meer 'n kompleksbeheerliggaam is wat die tuindienste op koers hou nie, is 'n aanpassing.
Waarheen nou met al die takke wat ons afgesaag het? Hoe gemaak met natgooi en beplanning? Wanneer moet wat gesnoei word of iets anders geplant word?
Goed. So ons is stuk-stuk besig om die tuinmaak-ding baas te raak wanneer ons as gesin oor naweke die tuin invaar.
Dan is daar natuurlik die bossies. Jinne. Hulle is orál en steek elke nou en dan kop uit. Tussen die krake van die plaveisel, teen die mure, op plekke waar ek nooit gedink het enigiets sal kan groei nie.
So sit ek toe weer een middag en trek die bossies uit (dit kan mos nogal bevredigend wees as jy hulle so wortel en al uitgetrek kry) toe ek vir daai hopie kyk en besef al daai onkruid het sterk penwortelstelsels. Dit is sowaar eintlik bewonderingswaardig om daai geharde plantjies so te kyk en te sien hoe taai hulle is – daai wortels wat enigeplek grond kan vind en kan kronkel en draai. Daai blaartjies wat opskiet vanuit die mees onwaarskynlike plekke. En goeiste, 'n paar weke later is daar net nóg.
Kyk, mens wil seker nie sê ons moet soos onkruid wees nie, maar ek dink ons kan selfs by die onrkuid iets leer: As ons geloof maar net so sterk geanker kan wees in God. As ons maar net so veerkragtig en taai kan wees soos daai plantjies wat net gewoon weier om te wyk.
Ek gaan nie jok nie, om in hierdie dolle wêreld so bietjie soos 'n stukkie onkruid te wees, is dalk nie noodwendig 'n slegte ding nie.
Gebed: Here, dankie dat ek deur die natuur te aanskou, selfs iets so eenvoudig soos onkruid, kan leer oor geloof. Help my om in U geanker te bly, veerkragtig te wees en ook taai te wees, wanneer dit nodig is. Amen.