Tyd vir regpak - 30 April 2025
Charlea Grey
Hierdie volk weet dat die Here hulle sal help. U sal hulle laat rus en vrede vir hulle gee, want hulle glo in U. Jesaja 26:3, Bybel vir almal
Ek weet nie van jou nie, maar vir my het die eerste vier maande van die jaar soos 'n totale warrelwind gevoel. Daar het so baie dinge gebeur – by die werk en in my persoonlike lewe. Dit het keer op keer vir my gevoel of ek my oë knip en dan is dit wéér Vrydag.
Saam met die warrelwind het my kop ook al voller en voller geraak. My gedagtes is deesdae 'n warboel van bekommernisse, planne vir die res van die jaar en werkdinge. Maar daar is ook 'n magdom emosies. Ek ervaar blydskap oor 'n nuwe hoofstuk wat wink en 'n wonderlike nuwe projek wat ek en 'n vriendin aanpak. Diep binne my is daar egter ook 'n ontsettende hartseer oor gekompliseerde verhoudings met mense vir wie ek lief is. Dis nogal baie goed om van sin te maak in net 'n paar maande.
Nou die dag het ek wel besef, dis tyd om my kop te "declutter". Jy weet, om die dinge wat soos soveel chaos voel, uit te pak, uit te sorteer en weer reg te pak.
Daar is 'n bekende regpak-program op Netflix. Ek geniet dit om te kyk hoe mense hul deurmekaar huise en garages stuk-stuk uitsorteer totdat dit 'n netjiese, ordelike ruimte is. Hulle hou die dinge wat vreugde gee en laat gaan van die dinge wat eintlik net onnodig plek opneem en die vertrek deurmekaar en vol maak.
Sien, dít is wat ek in my gemoed nodig het. Maar, het ek baie gou besef, hierdie is nie iets wat ek kan doen sonder God aan my sy nie. Ek het sy leiding en genade nodig om deur al my emosies en gevoelens te werk.
Om deur al 'n mens se bekommernisse, vreugdes, hartseer en wroeginge te werk, verg 'n oor wat gaan luister en vrede gaan bring, eerder as verdere angs. Dit verg 'n Vader wat bereid is om die dinge wat jy nie meer kan dra, by jou te vat en dit vír jou uit te sorteer. Dit verg vergifnis, genade en liefde. Dit verg sagwees met jouself.
Die eerste vier maande van die jaar was vir jou dalk ook 'n wipwarit, 'n rondomtalie wat net vinniger en vinniger draai. As jy kan, vat 'n oomblik, skep asem en sorteer die dinge wat jou pla uit, want daar lê nog agt maande van 2025 voor. En vra vir God om jou te help. Ek glo Hy is die beste regpak-konsultant vir sake van die hart en dinge van die lewe.
Gebed: Here, dankie dat ek na U kan draai wanneer my kop en hart oorvol is. Dankie dat ek na U toe kan kom met my bekommernisse en vreugdes. Help my om vas te hou aan dit wat goed is en die dinge wat my hartseer maak, in u hande te plaas. Amen.