Simon Petrus, navolger en dienaar van Jesus Christus - 2 Mei 2025
Ewald Schmidt
Van Simon Petrus, 'n dienaar en apostel van Jesus Christus. 2 Petrus 1:1a, 1983-vertaling
Ons lewe in interessante tye. Daar is soveel onsekerheid in die wêreld rondom ons. In hierdie wêreld gebruik die Here ons as gelowiges om sy lig helder te laat skyn. Dit maak my soms bang. Ek voel nie altyd soos 'n lig wat helder skyn in die donker nie. Daarom is ek so dankbaar dat die Here van doodgewone mense gebruik gemaak het in die Bybel. Soos Petrus.
Simon Petrus is vir my iemand met wie ek maklik kan identifiseer. Wanneer ons die eerste keer van hom lees in die Bybel is hy, saam met sy broer Andreas, gewone vissermanne op die See van Galilea. Dit was nou nie 'n droomwerk destyds nie, nie 'n heerlike stokperdjie soos die manne wat by Sodwana met hulle pragtige bote op die see uitgaan vir roofvisse nie. Nee, dit was maar 'n harde werk om te probeer oorleef in die moeilike bestaan in die eerste eeu in die Romeinse Ryk. Hulle het deurlopend na vis geruik, en mense het verkies om wind-op van hulle verby te stap. So sou vissermanne hulle hele bestaan aan hulle bedryf wy, en hulle kinders ook so leer. Tot die dag wat 'n mens eenvoudig te oud en opgebruik was om weer op die see uit te vaar.
Daardie een dag in Petrus se lewe het alles verander. Jesus Christus het daar verby gestap. Hy het vir Simon Petrus en Andreas genooi: “Kom hier! ... en Ek sal julle vissers van mense maak!” (Markus 1:17)
Simon sou saam met die ander dissipels die volgende drie jaar van sy lewe saam met Jesus spandeer. Hy sou opstaan as leier onder hulle. Hy sou gekenmerk word deur 'n kinderlike geloof, wat soms tot oorhaastige woorde en dade kon lei. Hy is die dissipel wat dit gewaag het om saam met Jesus op die stormsee te loop. (Matteus 14:28-31)
Petrus het baie foute gemaak langs die pad. Hy het belowe om saam met Jesus te sterf. (Lukas 22:33) Maar toe die toets kom met Jesus se arrestasie het hy Jesus verloën (Lukas 22:54-62) Toe Petrus op sy eie vermoëns en insigte staat gemaak het, het hy nie die toets geslaag nie.
Tog het Jesus hom vertrou. Hy het besondere moeite met Petrus gedoen na sy opstanding, om Petrus se roeping te bevestig. (Johannes 21:15-19) Weer het Jesus die opdrag herhaal: Volg My!
Petrus het diep spore in die eerste eeu se kerkgeskiedenis gestap. Die tradisie sê dat hy uiteindelik vir Jesus in Rome gesterf het aan 'n kruis. Bo-op sy graf is die St Petruskatedraal in Rome gebou. Petrus se belangrikste ontdekking in sy lewe was sy geloofsbelydenis: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (Matteus 16:16) Aan hierdie Jesus het hy end-uit vasgehou en Hom gevolg. Op hierdie belydenis bou die Here steeds sy kerk, en die poorte van die hel sal dit nooit oorweldig nie … (Matteus 16:18).
Gebed: Here Jesus, U is die lewende Here, die Seun van God. Help my om op hierdie belydenis ook my lewe te bou, en U te volg waarheen my lewenspad ook al mag lei. Amen.