Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Gelowiges het 'n blye toekoms omdat ons Jesus ken! - 27 Mei 2025

Ewald Schmidt
 
Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. 2 Petrus 1:10-11, 1983-vertaling
 
Vandag se vers leer ons weer hoe belangrik dit is om enige teksvers in sy konteks te lees. As ons vers 11 net op sigwaarde neem, lyk dit so maklik asof daar van ons verwag word om hard te werk om ons plek in die hemel te verdien. Dit kan soveel ongemaklike vrae in ons laat ontstaan. Hoeveel moet ek dan doen voordat daar vir my vrye en feestelike toegang tot God se ewige koninkryk sal wees? Wanneer het ek dan genoeg gedoen om dit te verdien? Waar is die afsnypunt, wanneer het ek net te min gedoen om dit nie te maak nie?
 
Wanneer ons hierdie vers egter in sy konteks lees, dan bring dit soveel hoop. Petrus het tog in 2 Petrus 1:2 gesê dat die Here in ons lewe aan die werk was, lank voordat ons iets vir Hom kon doen. Hy het dit moontlik gemaak dat ons in Hom kan glo. Ons geloof is 'n kosbare geskenk uit sy hand uit, en die fondament van daardie geloof is ons verhouding met Jesus Christus. Omdat ons Hom ken, is daar vir ons genade en vrede in oorvloed. Hy is die sleutel tot die koninkryk van God.
 
In ons reeks het ons sover gesien dat geloof 'n gawe van God is. Hy het ons alles gegee wat ons nodig het om te lewe, en om Hom te dien (2 Petrus 1:3). Ons kosbare geloof is 'n geskenk van God, maar ons het 'n verantwoordelikheid om daarin te groei deur ons lewe heen. Geloof moet verryk word met deugsaamheid, kennis, selfbeheersing, volharding, godsvrug, liefde vir mekaar as medegelowiges, en liefde vir alle mense. As hierdie dinge in ons lewe aan die groei is, wys die vrug van ons lewe dat ons op die regte pad saam met die Here stap. Dit getuig dat ons nou reeds deel van God se koninkryk hier op aarde is, daar waar gelowiges Hom as Koning van ons lewens eer en dien. Maar daar is ook 'n boodskap van hoop: wanneer ons so saam met Jesus ons lewenspad stap, dan is daar 'n ewige toekomsverwagting. Aan die einde van hierdie aardse reis is daar die feestelike tuiskoms in die ewige koninkryk van God. Dit bly mos die troos van elke gelowige: ons toekoms is gewis, want Jesus leef! As ons saam met Hom op reis is op ons lewenspad, het ons niks te vrees vir die ewigheid nie, in sy hande is ons veilig.
 
Daarom moedig Petrus ons met vandag se vers aan: Volhard in jou geloof! Vertrou op Jesus! Vandag mag moeilik wees, maar ons toekoms is verseker saam met Hom!
 
Gebed: Here Jesus, dankie dat U my lei en dra elke dag van my lewe. Dankie dat ek vandag deel van u koninkryk mag wees, en U mag dien as Koning van my lewe. Dankie dat ek ook nie oor die toekoms bang hoef te wees nie, want my toekoms is veilig saam met U. Amen.
Previous article: Ooggetuies vertel ons in die Woord van Jesus! - 28 Mei 2025 Prev Next article: Volhard oorwinnend op die Here se pad! - 26 Mei 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.