Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Ooggetuies vertel ons in die Woord van Jesus! - 28 Mei 2025

Ewald Schmidt
 
Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien. 2 Petrus 1:16, 1983-vertaling
 
Baie mense wonder of hulle die boodskap van die Bybel kan glo en vertrou. Vir baie is die boodskap van Jesus net 'n mite uit die ou verlede. Sommiges wonder of Jesus werklik bestaan het, of dalk net 'n legende uit die eerste eeu uit was.
 
Vandag se vers vertel van iemand wat goed met Jesus bekend was. Petrus het Jesus daardie dag langs die See van Galilea ontmoet, toe hy nog gedink het hy gaan die res van sy lewe lank visvang. Jesus het hom genooi: “Kom, volg My!” Petrus, en sy broer Andreas, het hulle ou lewens net daar agtergelaat, en saam met Jesus op 'n reis gegaan wat die geskiedenis sou verander. Jesus het hulle vir drie jaar lank opgelei en gementor oor die koninkryk van God, wat so anders is as die koninkryke van hierdie wêreld. Hy sou vir hulle wys hoe God, die Vader, se liefde lyk. Hulle sou die mooiste boodskappe van 'n beter alternatiewe lewe hoor – hoe liefde alles kan oorwin. Hulle sou Jesus se deernisvolle omgang met mense sien, hoe Hy mense genees en vrygemaak het van hulle skuld. Hulle sou ooggetuies word van Jesus se kruisiging, toe Hy daardie Goeie Vrydag in ou Jerusalem op die wreedste manier tereggestel is.
 
Ons lees vandag die woorde van iemand wat Jesus na sy dood weer lewendig gesien het. Petrus het gesien dat die krag van God die onmoontlike gedoen het, om Jesus weer op die derde dag uit die dood op te wek. 'n Heerlike ervaring in jou binnekamer sou wees om weer die ooggetuieverslag van Johannes te lees in Johannes 20. Dis waarna Petrus hier verwys: Jesus se krag om die dood te oorwin, en daarmee vir ons as gelowiges 'n ewige toekoms saam met Hom te verdien. Maar vandag se vers sê ook: Jesus is nie klaar met ons nie! Hy kom weer! Dit is wat Jesus belowe het die aand voor sy kruisiging in Johannes 14:2-3 “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
 
Hierdie boodskap van Jesus as ons Here, wat vir ons gesterf en opgestaan het, en wat weer kom om ons te kom haal, was vir Petrus die fondament waarop hy sy lewe gebou het. Petrus was bereid om vir Jesus te sterf, en hy het dit ook gedoen. 'n Mens gee nie jou lewe op vir 'n legende of 'n versinsel nie. Maar wanneer jy in Jesus die lig vir die wêreld ontdek het, en die hoop wat jou deur elke moeilike dag dra, dan sal jy bereid wees om selfs vir Hom te sterwe.
 
Petrus sê: Ons het Hom gesien! Hy het ons lewens kom verander! En Petrus nooi daarmee ook vir sy lesers 2 000 jaar later: Jy kan Hom ook vertrou!
 
Gebed: Here, dankie dat ons Bybel vol ooggetuieverslae is van mense wat U geken en saam met U gelewe het. Hulle was so oortuig van die boodskap van goeie nuus dat hulle bereid was om hulle lewens vir U af te lê. Dankie dat U vandag die lewende Here is, wat eendag terugkom om ons te kom haal. Help my om U al beter te leer ken, Here Jesus, en U met my lewe te vertrou. Amen.
Previous article: Die dag toe die hemel deurgebreek het aarde toe - 29 Mei 2025 Prev Next article: Gelowiges het 'n blye toekoms omdat ons Jesus ken! - 27 Mei 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.