Die Heilige Gees lei ons verder op die pad van geloof - 30 Mei 2025
Ewald Schmidt
Hierdie boodskap is soos 'n lamp wat in 'n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte. Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig. 2 Petrus 1:19-21, 1983-vertaling
Die Bybel is vir 'n gelowige mens 'n kosbare geskenk uit die hand van God. Die Bybel is so kosbaar, omdat dit ons terugneem na wie Jesus Christus vir elkeen van ons is. Vandag se teks volg op gister, waar ons gelees het hoe Jesus as die Seun van God aan Petrus, Jakobus en Johannes, op die berg geopenbaar is. Hulle sou nog 'n groter openbaring van Jesus se Goddelike identiteit ervaar toe Hy uit die dood opgewek is. Dit het hulle inspireer om die res van hulle lewens aan Hom te wy, en Hom te volg vir die res van hulle dae op aarde.
Die boodskap van Jesus as Here van ons lewe is die lamp in die donkerte van hierdie wêreld. Johannes het dit in die begin van sy evangelie so gestel: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” (Johannes 1:4-5) Jesus was ook die lig in Petrus se lewe, en hy moedig ons aan om in hierdie lig te wandel totdat Jesus weer terugkom. Dis wat hy bedoel met die beeld van die môrester wat opkom: Jesus kom weer, en dan is die tyd van duisternis in hierdie wêreld vir altyd verby.
Die boodskap van Jesus is kosbaar, dis die lig waarin ons wandel. Daarom herinner Petrus ons dat Jesus ons nie alleen agter gelos het om self ons pad te vind nie. Jesus het gesê Hy laat ons nie as weeskinders in die wêreld agter nie. Hy stuur ons sy Gees om ons te lei in die waarheid totdat Hy terugkom. (Johannes 14:15- 20) Die Heilige Gees lei die kinders van God. Hy het mense geïnspireer om die Woord van God neer te skryf. Dit bly die wonder dat die Here doodgewone mense in die geskiedenis ontmoet het, dat hulle iets van sy genade en liefde ervaar het, en daaroor geskryf het. Die Here het daardie vertellings van wie Hy is, bymekaar laat kom tot die biblioteek van genade. In verskillende literatuursoorte soos geskiedenisvertelling, gedigte, gelykenisse, profesie en ooggetuieverslae leer ons die Here beter ken. Die Heilige Gees wat by die skrywers was en hulle inspireer het, is ook by die lesers van die Bybel. Hy inspireer ons wat dit lees, om dit te verstaan. Die Woord en die Gees lei ons om Jesus te ken, om Hom te vertrou en ons lewens aan Hom te wy. So lei Hy ons om in die lig te lewe, en Jesus dag vir dag beter te leer ken op ons lewensreis. Hoe meer ons Hom ken, hoe meer vertrou ons Hom, en hoe groter impak kan ons maak met ons getuienis in hierdie wêreld.
Gebed: Here, Petrus is vir ons so 'n mooi voorbeeld van hoe U 'n gewone mens se lewe verander het. Dankie dat U hom as 'n gewone visserman geroep het om U te volg. Dankie dat hy die geleentheid gehad het om U te leer ken, en sy lewe aan U te wy. Dankie vir sy voorbeeld, soms selfs hoe om dit nie te doen nie. Dankie vir sy brief, waarin ons saam hierdie maand kon lees. Mag elkeen van die lesers soos Petrus onder die indruk kom: Jesus is die Seun van God, luister na Hom! Seën die lesers van hierdie dagstukkies ook met u teenwoordigheid, u genade en liefde in hulle daaglikse soeke na U. Amen.