Die dag toe die hemel deurgebreek het aarde toe - 29 Mei 2025
Ewald Schmidt
Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” Die stem uit die hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was. 2 Petrus 1:17-18, 1983-vertaling
Petrus skryf sy briewe as 'n ooggetuie van die aardse lewe en die bediening van Jesus Christus. Vir hom was daar geen twyfel oor die identiteit van Jesus nie. Daar was al baie profete in die geskiedenis, en baie filosowe wat diep dinge gesê het oor die lewe. Daar was al mense wat ons geïnspireer het om beter te doen, en om meer om te gee vir die mense rondom ons. Vir Petrus was Jesus al hierdie dinge, en nog veel meer. Petrus het vas geglo dat Jesus die Seun van God is. Hy verwys in vandag se teksverse na een van die ervarings wat hy gehad het, wat hom tot hierdie oortuiging gebring het.
Jesus het op 'n dag 'n moeilike ding vir sy dissipels gesê. Dit sou nie net lekker wees om Hom te volg nie. Ons lees daarvan in Lukas 9:23-25: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou. “Wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?” Jesus het dit duidelik gemaak dat dit ons ons lewe kan kos om Hom te volg. Wat maak dat 'n mens bereid sou wees om alles op te offer vir Jesus, as jy Hom nie werklik vertrou nie?
Ons lees in Lukas 9:28-35 dat die dissipels agt dae later saam met Jesus was, en dat Hy die kernleiers, Jakobus, Johannes en Petrus, saamgeneem het teen die berg uit om saam met Hom daar te gaan bid. Daar het hulle 'n ervaring gehad van Moses en Elia wat aan Jesus verskyn het. Van die geleerdes sê dat hulle die Wet en die Profete van die Ou Testament verteenwoordig. Hierdie ontmoeting het so 'n indruk op Petrus gemaak dat hy dadelik drie hutte wou bou, en net daar agterbly. Maar Jesus is groter as hulle, dit word bevestig deur die stem uit die hemel wat van Jesus gesê het: “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom.” (Lukas 9:35). Wanneer die stem Jesus as Seun van God aan hulle bekend stel, ontdek die dissipels dat Jesus nou alleen saam met hulle is. Hy stap met hulle die pad verder. Daarvandaan het hulle nooit weer getwyfel of Jesus waarlik die Seun van God is nie. Jakobus is vroeg oorlede as een van die eerste martelare. In hulle briewe en die Openbaring in die Nuwe Testament is Johannes en Petrus albei vas oortuig dat Jesus die Here is.
Petrus vertel van hierdie groot oomblik toe hulle iets van die hemel beleef het daardie aand op die berg. Dit het so 'n diep indruk op hulle gemaak, dat hulle hierdie Jesus vir die res van hulle lewens gevolg het. Petrus het inderdaad aan die einde 'n kruis opgeneem en Jesus gevolg tot die dood toe. Dit is die vlak van toewyding wat 'n hemelse openbaring van Jesus se Goddelike identiteit in hulle lewens gebring het. Dis wat vandag se vers ook vir ons wil sê: Jesus is die Seun van God. Luister na Hom!
Gebed: Here Jesus, soms twyfel ek ook nog in my geloofswandel saam met U. U het my geroep om U te volg, al kos dit my lewe. Help my om U waarlik te leer ken as die Seun van God, vul my met geloof om voluit vir U te lewe. Amen.