Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God se goeie nuus: Nuwe wyn, nuwe lewe - 9 Junie 2025

Louise Gevers 

“En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die leersakke laat oopbars. Dan sal die wyn uitloop en die sakke sal tot niet gaan. Nee, nuwe wyn behoort in nuwe leersakke gegooi te word. Lukas 5:37-38, 2020-vertaling
 
Hergebruik jy ou goed? Daar kom 'n tyd dat dit nie langer moontlik is nie.
 
Onlangs, terwyl ek op my foon rondblaai, sien ek 'n inskrywing oor die korrekte gebruik van latex-handskoene deur die mediese beroep. Dit het verwys na die poreuse aard van latex, die noodsaaklikheid om die handskoene voor en na gebruik te was om sodoende die mediese beampte sowel as die pasiënt te beskerm, en om die handskoene slegs een keer te gebruik. As hierdie eenvoudige beginsel beter gesondheid tot gevolg kan hê, is dit nie moontlik dat geestelike gesondheid ook voordeel kan trek deur wyse beginsels na te volg nie?
 
Wat Jesus in vandag se teksvers gesê het oor nuwe wyn in ou leersakke vind aanklank hierby. Die leersakke waarna Jesus verwys het, was nie poreus soos die handskoene nie, maar het met ouderdom bros geword en kon nie vir nuwe wyn gebruik word nie. Hierdie metafoor is gebruik om die onbuigsame, verouderde godsdienstige gebruike van die dag te beskryf. Dit kon nie Jesus se nuwe leringe hanteer nie.
 
En tog het Hy vir hulle gesê: "Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul." (Matteus 5:17)
 
Jesus – God met ons – is die Een oor wie daar van die begin af geprofeteer is dat Hy sal kom om die Wet te vervul deur dit te leef. Hy het geensins weggedoen met wat soos 'n komplekse stel reëls gelyk het nie, maar Hy het dit geleef en aan sy volgelinge 'n lewende geloof gegee en logies gesproke, was die "ou leersakke" wat hulle vir sy koms voorberei het, nie langer daarvoor geskik nie.
 
Die nuwe verbond wat Jesus ingelei het, verwys na 'n heeltemal nuwe manier om God te beleef. Soos Hy met sondaars omgegaan, met tollenaars geëet en mense geleer het dat die koninkryk van God gekom het, het hulle 'n nuwe begrip van hulle verhouding met Hom ontwikkel.
 
Jesus het God se genade deur sy aksies bewys deur sonde te vergeef, siekes te genees – na liggaam en gees – en God se nabyheid te wys, anders as te vore toe deur die Wet, God ver voorgekom het. Jesus het gesê: "Die bestemde tyd is vervul, en die koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:15)
 
Die nuwe lewe van vergifnis, liefde en geregtigheid word duidelik wanneer die nuwe gelowiges die werk van die Gees wys, lewend en aktief, nuwe wyn in nuwe leersakke produseer, want wanneer Jesus ons sonde vergeef, maak Hy ons lewend vir sy Gees. "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword." (2 Korinthiërs 5:17)
 
Geniet ons hierdie nuwe wyn in sterk, soepel leersakke, of is die sakke oud en bros want ons klou vas aan ons ou weë en idees, vasgevang in ons gemaksone?
 
Mag die blydskap wat die nuwe wyn bring elkeen van ons vind!
 
Gebed: Hemelse Vader, help my om my verhouding met U ten volle aan te gryp en my ou weë en idees agter te laat sodat u Gees nuwe wyn kan produseer. Ek bid dit deur Jesus Christus en tot u eer. Amen
Previous article: God se goeie nuus: Vreugde kom in die oggend - 10 Junie 2025 Prev Next article: God se goeie nuus: Geloof en deursettingsvermoë - 6 Junie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.