Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God se goeie nuus: Vreugde kom in die oggend - 10 Junie 2025

Louise Gevers
 
... sy toorn duur 'n oomblik, sy goedgesindheid 'n lewe lank. In die aand word daar aanhoudend gehuil, maar teen die oggend is daar jubelkrete. Psalm 30:6, 2020-vertaling
 
Woede, trane en hartseer is ondervindings wat ons almal op een of ander tyd in ons lewe, of miskien reg nou, beleef. Om iemand wat ons liefhet te verloor – of dit nou deur die dood of 'n gebroke verhouding is – is baie pynlik. Selfs 'n meningsverskil, of om van ons geliefdes vervreemd te wees, skep 'n sin van verlies wat ons bedruk laat voel en in die nag laat wakker lê.
 
Dink ons ooit hieraan wanneer ons van God vervreemd is?
 
Vir Dawid, alhoewel koning, was hierdie konsep nie vreemd nie. Hy was bekend as "die geliefde van die liedere van Israel" (2 Samuel 23:1) en hy het in tye van vreugde, nood en hartseer, sy hart voor God uitgestort. God was altyd daar vir hom as sy "Rots" (Psalm 18:2) wat hom teen dood en gevaar beskerm, sy belydenis aanvaar en sy blye lofprysinge ontvang het. In ons teksvers vir vandag, wat kom uit 'n psalm wat Dawid vir die inwyding van sy huis gekomponeer het, verwys hy egter na die toorn van God as iets wat hy self ervaar het en die hartseer wat hy as gevolg van sy vervreemding van God, beleef het.
 
In dieselfde asem sê hy egter dat, in vergelyking met God se goedgesindheid wat 'n "lewe lank" duur, sy toorn net 'n oomblik duur is. Alhoewel God se toorn tot 'n aanhoudende gehuil lei, is dit van korte duur voordat 'n nuwe dag aanbreek. Dawid sien hierdie ondervindings in 'n positiewe lig want daardeur verstaan hy God en homself beter en die verhouding met God wat hy reeds sedert sy jeug waardeer het, word sterker.
 
Dawid ondersoek sy hart, en hy besef dat as 'n geliefde koning hy begin het om sy eie publisiteit te glo en alhoewel hy altyd God as sy verlosser en die bron van sy seëninge erken het, hy begin het om God se guns as vanselfsprekend te aanvaar en dit het begin om subtiel sy afhanklikheid van God te vervang. Dawid sê: "Ek is die een wat onbesorg gesê het: 'Ek sal nooit wankel nie!' Deur u goedgesindheid het U, Here, my so sterk soos 'n berg laat staan. Verberg U u gesig, is ek beangs." (Psalm 30:7-8) In sy angs erken Dawid sy sonde en hy pleit by God: "Luister, Here, en wees my genadig! Here, wees vir my 'n helper!" (Psalm 30:10)
 
God het Hom nie langer verbergl nie. Hy het Dawid geantwoord en die resultaat was volkome blydskap! “U het my rouklag in 'n koordans verander, my rouklere uitgetrek en my met vreugde omgord, sodat my hele wese U kan besing en nie stilbly nie. Here, my God, ek sal U vir altyd prys!" (Psalm 30:12-13)
 
Wanneer ons 'n probleem ondervind wat net nie wil ophou nie, kan ons dikwels nie ons aandeel daarin sien nie; maar wanneer ons dit wel sien en die probleem word opgelos, kyk ons terug en besef hoe relatief kort ons tyd van swaarkry en hartseer was, veral as ons dit vergelyk met God se liefde, beskerming en guns – waarvoor ons niks gedoen het om dit te verdien nie – wat ons tot in ewigheid sal geniet. En soos God se toorn net 'n oomblik duur, is ons hartseer ook van korte duur – die son sal weer skyn.
 
Gebed: Vader, dankie vir onverdiende genade en barmhartigheid wat U altyd bewys. Dankie dat in tye van hartseer ek kan weet dat in die oggend blydskap weer sal kom. Ek loof en prys U. Amen
 
Previous article: God se goeie nuus: God se woorde is skatte - 11 Junie 2025 Prev Next article: God se goeie nuus: Nuwe wyn, nuwe lewe - 9 Junie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.