God se goeie nuus: Jesus is gewillig en barmhartig - 13 Junie 2025
Louise Gevers
Hy het sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: “Ek wil, word rein!” En sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn. Lukas 5:13, 2020-vertaling
Aanraking is 'n fundamentele menslike behoefte, of dit nou 'n fisiese gebaar of 'n emosie is wat die hart aanraak, dit is belangrik vir beide fisiese en emosionele welsyn. Kommunikasie word ook bevorder deur 'n warm, gerusstellende aanraking, soos byvoorbeeld 'n handdruk of 'n drukkie, wat op 'n spesiale manier aan 'n persoon erkenning gee.
Jesus se simpatieke manier om die armes, vergete mense, die desperates en die sterwendes te genees, was merkwaardig. Dit het ander geïnspireer om wanneer hulle by die siek en sterwendes betrokke is sy deernis en sorg na te volg. Moeder Theresa en prinses Diana mag miskien welbekend wees vir hulle omgee en deernis vir die armstes van die armes in hierdie wêreld, maar daar is baie ander van wie die wêreld nooit eers hoor nie.
Dit was in die Sondagskool waar ek vir die eerste keer van die bestaan van melaatsheid gehoor het toe ons onderwyser vir ons die ware verhaal vertel het van Joseph de Veuster, 'n sendeling, wat na 'n melaatse kolonie op Molokai, 'n Hawaise eiland, gegaan het om as leraar en dokter te werk en, net soos Jesus sou gedoen het, tussen hulle te woon.
Joseph het na hulle fisiese, sowel as na hulle geestelike en emosionele behoeftes omgesien, terwyl hulle aan hierdie vernietigende siekte gely het. Ek was verstom toe sy vertel hoe Joseph, na jare se werk onder hierdie mense, op 'n dag nie die gloeiende kool wat op sy voet geval het, kon voel nie. Dit het beteken dat hy ook die siekte opgedoen het en dat hy saam met hulle sou sterf – soos wat Jesus vir ons gedoen het.
Ek dink Joseph Veuser is geïnspireer deur Jesus se genesing van die melaatse man in ons teksvers vir vandag en die manier hoe Hy hom met liefde en waardigheid hanteer het. Alhoewel die man bedek was met melaatse swere en heel moontlik reeds van sy liggaamsdele verloor het, het Jesus nie gehuiwer nie, maar met deernis op die man se geloof gereageer, "... sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: "Ek wil, word rein!" (Lukas 5:13)
Wanneer laas het iemand op so 'n manier na hierdie man uitgereik – sy hand uitgestrek en hom aangeraak; ware barmhartigheid betoon?
Nie net kon Jesus die man genees nie, maar Hy wou dit doen. Onmiddellik het Hy vir die man instruksies gegee wat sy vryheid sou verseker om na die samelewing terug te keer, en nadat hy homself aan die priester gewys het, kon hy God weer aanbid.
Jesus wil dieselfde barmhartigheid aan ons bewys wanneer ons in geloof na Hom draai. Is ons gewillig om dieselfde vir ander te doen?
Gebed: Genadige Here Jesus, laat u liefde en barmhartigheid vandag vir almal in nood deur my skyn. Help my om u voorbeeld met blydskap te volg. Amen