Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

God se goeie nuus: Versoekings lei tot 'n oorwinningskrans - 12 Junie 2025

Louise Gevers
 
Gelukkig is die man wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinningskrans van die lewe ontvang, wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet.  Jakobus 1:12, 2020-vertaling
 
Daar is 'n gewilde sêding in Engels wat dikwels gebruik word om iemand wat hom in 'n uitdagende situasie bevind, aan te moedig: "When the going gets tough, the tough get going"; getrou aan die humoristiese aard van die mensdom, het dit egter gou verander na: "When the going gets tough, the tough go shopping". Dit is 'n goeie opsomming van die min aptyt wat mense in die algemeen vir probleme of teëspoed het.
 
Christene wat versoekings en beproewings beleef het – en het ons nie al almal nie – sal weet dat dit 'n toets vir geloof is en dat dit wat Jakobus van "die twaalf stamme in die Diaspora" (Jakobus 1:1) verlang, baie moeilik is. Hy sê: "Beskou dit as 'n groot vreugde ... wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring." (Jakobus 1:2-3) Sonder twyfel praat Jakobus uit persoonlike ervaring.
 
Die ironie is dat wanneer ons in tye van krisis getoets word, wanneer ons sukkel – op watter vlak ook al – word ons uitgedaag om sterk te wees, diep te delf en te veg vir oorlewing; maar dit is wanneer ons aan ons geloof vashou dat ons ontdek dat ons "tot dit alles ... in staat [is] deur Hom wat [ons] krag gee". (Filippense 4:13) Ons leer dinge wat ons nie noodwendig in goeie tye sal leer nie. Net soos ons spiere elke keer wat ons oefen sterker word, word ons ook toenemend met elke nuwe versoeking en beproewing sterker in gees en geloof.
 
Die 26-jarige Katherine Wolf (na wie ek gister verwys het), kon na 'n ernstige beroerte nie loop, praat of sluk nie en sy was vir 40 dae in die intensiewesorgeenheid. Dit is baie moeilik om te bepaal wanneer die volle werklikheid van hierdie groot beproewing tot haar deurgedring het, maar oor die jare van verskriklike stadige vordering en terugslae (sy is nou 43 jaar oud) het sy in geloof gegroei en kan sy as 'n nuwe mens haar nuwe lewe voluit leef. Walter Elliot se woorde: "Perseverance is not a long race; it’s many short races one after the other” is 'n goeie beskrywing van die soort beproewing wat Katherine beleef.
 
Sy het ontdek dat die woorde van Jakobus 1:4: "Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie" 'n sleutelteks was om haar te help om positief te bly volhard in al die uitdagings wat sy moes verduur. Dit het haar gehelp om haar perspektief te vorm terwyl sy met hoop hard gewerk het aan die genesing van haar liggaam en gees, om te leer om weer te kan loop, praat en eet.
 
In Katherine se eie woorde: "Brokenness can lead to a kind of healing that makes us more whole than we ever were before the breaking … The best fruit in my life grew from the soil of my worst moments.”
 
Hoe hanteer ons ons moeilikste tye? Ons kan Jesus vertrou: Hy bemoedig elkeen wat probleme of teëspoed ondervind. Hy weet waar ons is. "Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.” (Johannes 16:33)
 
Gebed: Liefdevolle Vader, skenk aan my krag terwyl U my weer heel maak en help my om versoekings te deurstaan sodat ek ook die oorwinningskrans van die lewe kan ontvang wat U beloof het aan diegene wat U liefhet. Amen
 
Previous article: God se goeie nuus: Jesus is gewillig en barmhartig - 13 Junie 2025 Prev Next article: God se goeie nuus: God se woorde is skatte - 11 Junie 2025 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.