God se goeie nuus: Ons is deel van sy familie - 27 Junie 2025
Louise Gevers
Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak. Johannes 14:21, 2020-vertaling
Leonardo da Vinci het op 'n keer gesê: "Trane kom uit die hart en nie uit die brein nie." Hierdie woorde beklemtoon twee belangrike dele van ons wese: die hart, waar emosie en deernis woon en die brein, die bron van denke en rede. Saam stel hulle ons in staat om 'n vol en betekenisvolle lewe te lei. 'n Briljante verstand sonder 'n deernisvolle hart is onvolledig en net so kan 'n liefdevolle hart sonder onderskeidingsvermoë maklik rigting verloor. Emosie en rede moet saam werk – ons geloof word beide gevoel en verstaan. Wanneer hart en verstand ooreenstem, kan ons ten volle met Jesus se woorde omgaan.
Liefde word dikwels as 'n emosie beskou, maar in vandag se teksvers gee Jesus 'n dieper en meer praktiese betekenis daaran. Hy sê dat diegene wat Hom liefhet sy gebooie aanvaar en dit onderhou. Vir Jesus is ware liefde nie net 'n woord wat gesê word nie, maar iets wat deur geloof en in gehoorsaamheid geleef word. Dit mag veeleisend blyk te wees, maar wanneer ons in ag neem wat Jesus se gebooie is, sou dit baie vreemd wees vir ons om te beweer dat ons Hom liefhet, maar dan sy gebooie te ignoreer.
In Johannes 13:34-35 sê Jesus: "Ek gee julle 'n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het." Is dit nie die kern van 'n gesonde familie nie – om lief te hê, om te gee en te vergeef, selfs sonder om aangesê te word om dit te doen?
Jesus wil nie louwarm volgelinge hê nie. Hy nooi ons uit na 'n ware verhouding met Hom. Hy leer ons om te bid: "Ons Vader ... " (Matteus 6:9-13) – en Hy herinner ons daaraan dat ons deel is van God se familie, volgens sy waardes moet leef, op Hom moet vertrou vir ons behoeftes, en ander moet vergeef soos ons vergeef is. Die waarde lê nie net in die oproep tot gehoorsaamheid nie, maar in die belofte wat volg. Jesus sê: "En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak." (Johannes 14:21b) Gehoorsaamheid open die deur tot 'n dieper verhouding met God. Wanneer ons sy weë gehoorsaam volg, maak Hy meer van Homself aan ons bekend –sy karakter, sy teenwoordigheid en sy doel met ons lewe.
Het jy al ver weg van God af gevoel en gewonder hoekom Hy stil en verborge is? Miskien bied vandag se teksvers 'n belangrike insig. Soms is die pad na 'n hernieude verhouding met Jesus nie deur 'n bonatuurlike geestelike ondervinding nie, maar deur eenvoudige geloof en gehoorsaamheid. Wanneer ons sy Woord ernstig opneem en dit daagliks leef, sal ons Hom beter leer ken en verstaan.
Wanneer ons Jesus liefhet, vertrou en volg ons Hom – nie uit vrees nie, maar uit toewyding; net soos 'n kind 'n liefdevolle ouer vertrou en na hom luister, so luister ons na Jesus omdat ons weet dat Hy die Waarheid en die Lewe is.
Gebed: Here Jesus, ek wil nie net met woorde sê dat ek U liefhet nie, maar dit met my hele lewe wys. Help my om u gebooie met vreugde en vertroue te gehoorsaam. Maak asseblief meer van U aan my bekend sodat ek U beter kan ken en u liefde weerspieël. Amen